Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Branden Grace tree sterk na vore in Dubai
Die Suid-Kapenaar Branden Grace speel ’n naderhou in die tweede ronde van die DP-wêreldkampioenskap in Dubai. Foto: Getty Images

Nadat Erik van Rooyen Donderdag die Suid-Afrikaanse vlag in die eerste ronde van die DP-wêreldkampioenskap laat wapper het, het sy landgenoot Branden Grace Vrydag die fakkel by hom geneem en met ’n indrukwekkende ronde opgeskiet op die voorlopersbord.

Die Buffelsbaaier is danksy ’n telling van 66 houe (ses minder as die baansyfer) op die Jumeirah-klub se Earth-baan op -6 ná die eerste twee rondes.

Nadat Grace in die eerste ronde slegs ’n enkele voëltjie op sy telkaart kon invul, was sy setyster Vrydag witwarm en het hy nie minder nie as sewe ingeryg.

Die enigste klad op sy telkaart, was ’n brouhou op die moeilike syfer-3 sesde putjie. Hy beklee nou gesamentlik die vyfde plek.

Die Amerikaner Patrick Reed het Vrydag ’n rits sethoue vir voëltjies ingerol in die tweede ronde van die DP-wêreldkampioenskap. Foto: Getty Images

Die grootste ster van die dag in dié toernooi, wat die wenner van die Race to Dubai (die Europese reeks se geldwennerslys) gaan bepaal, was egter die Amerikaner Patrick Reed.

Dié voormalige Amerikaanse Meesterskampioen het met ’n skitterende telling van 64 houe (sy eerste nege is in net 31 voltooi) vorendag gekom, wat nege voëltjies ingesluit het en sal die derde ronde as die voorloper op -10 binnegaan.

Sy naaste teenstander is die Engelsman Matthew Fitzpatrick (-8), wat Vrydag ’n agtereenvolgende 68 aangeteken het.

Van Rooyen (-3) het ná sy goeie 68 Donderdag stoom verloor Vrydag en moes met ’n telling van 73 tevrede wees. Hy en nog ’n Suid-Afrikaner, Shaun Norris (72 en 69) is saam met vyf ander spelers in die gesamentlike 14de plek.

• Christiaan Bezuidenhout, wat die laaste paar weke aan die brand was en agtereenvolgende titels in Suid-Afrika gewen het, het die tweede opeenvolgende dag ’n 71 aangeteken en is agt houe agter Reed. Sy landgenote Dean Burmester (76 en 67) en George Coetzee (71 en 72) is ’n verdere hou agter.

• Die 20-jarige opkomende Suid-Afrikaanse ster Wilco Nienaber het ná ’n nagmerrie-ronde Donderdag, toe hy 79 houe aangeteken het, Vrydag mooi teruggeveg met ’n 70.

Meer oor:  Christiaan Bezuidenhout  |  Patrick Reed  |  Branden Grace  |  Amerika  |  Dubai  |  Suid-Afrika  |  Gholf  |  Europese Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.