Sy pa se wakende oog vanuit die hemel is een van die groot redes waarom hy Sondag ’n emosionele toernooisege op die Amerikaanse PGA-reeks behaal het.
So het Branden Grace Dinsdagaand sy oorwinning vanuit sy huis in Florida in Amerika aan Netwerk24 beskryf.
Hy het Sondag die Puerto Rico-ope gewen – een hou voor Jhonattan Vegas van Venezuela.
“Die ouman (sy pa) het my dopgehou en my gehelp in die laaste twee rondes. Ek het veral in die laaste ronde baie aan my pa gedink. Ek dra hierdie oorwinning aan hom op. Hy het nog altyd meer in my raakgesien as wat ek self het,” sê Grace.

Branden Grace met sy oorwinningstrofee Sondag. Foto: Getty Images
Dié 32-jarige Grace het Sondag in die twee laaste rondes ’n arend en ’n voëltjie behaal. Hy het sodoende sy laaste ronde in 66 houe voltooi om op 269 (19 houe beter as baansyfer) te eindig. Dit het hom ook sy tweede wen in die Amerikaanse PGA-reeks verseker.
“Dit was ’n oorwinning vol emosies. Met my pa wat onlangs dood is, was dit ’n moeilike tyd vir my en my gesin. Maar dit het my net weer laat besef die lewe staan nie stil nie en dat ek hard moet werk. Dié oorwinning is nou al ’n ruk lank in die pyplyn. Ek kon dit aanvoel,” vertel hy.
Sy pa, Peter (69), is op 19 Januarie dood nadat hy op 31 Desember in ’n hospitaal in Knysna vir behandeling teen Covid-19 opgeneem is.
Grace vertel dat hy self in Julie 2020 die siekte onder lede gehad het.
“Ek het siek gevoel en myself laat toets. Dit toets was toe positief gewees. Ek moes dit iewers by ’n toernooi opgedoen het. Vir my was dit maar soos ’n gewone verkoue met kopseer gewees,” sê Grace.
Hy sê sy vrou en seuntjie was darem nie in kontak met hom nie.
“Weens die pandemie kon ek nie na Suid-Afrika reis om my gesin te besoek nie. Ek hoop ons sal binnekort die entstof ontvang sodat ons weer spoedig daar kan uitkom,” sê hy.
In Suid-Afrika woon Grace sedert ’n tienjarige ouderdom in die Suid-Kaap en het hy by die Hoërskool Outeniqua skoolgegaan.
“As ek kan terugkom, sal ek beslis Knysna toe gaan,” sê ’n opgewonde Grace.
Sy ma woon in Buffelsbaai.
Ná sy oorwinning hoop hy om verder van krag tot krag te gaan.
“Ek wil myself nou in die groter kompetisies kry. Ek gaan moet hard werk daarvoor en nog so ’n paar toernooie wen,” sê Grace.
“Ek wil vir die Grand Slams mik.”