Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Marizanne Kok gesels met Brandon Stone
Brandon Stone reg vir Groen Monster

Terwyl Brandon Stone as ’n klein seuntjie saam met sy pa en oupa op die skoonvelde van Sun City se Gary Player-buiteklub bewandel het, was dit vir hom ’n wonderwêreld.

Dit was ’n plek waar hy groot gedroom het van die Sonstad se kristaltrofee en die plek wat dit spelers in die geskiedenis gee.

Nou, op 25, droom hy steeds daarvan – al het die Groen Monster hom in sy besoeke as beroepspeler nog net bloedneus geslaan.

’n Dag om te koester . . . Brandon Stone reageer in Julie nadat hy gholf se magiese syfer van 59 by die Skotse Ope net-net misgeloop het. Hy het daardie toernooi gewen en ry sedertdien op ’n golf van selfvertroue.Foto: Andrew Redington/Getty Images

Ten minste, sê hy, gaan hy die komende week terug daarheen vir die derde Nedbank-uitdaagtoernooi van sy loopbaan met ’n ligte hart en ’n uitgeruste lyf.

“Wel, nou kan ek darem al sê daar is nog nie ’n plek op daardie baan wat ek nog nie gesien het nie,” spot Stone die afgelope week met homself. “Nou kan ek die bal maar net skoonveld af slaan en nie meer dink ek wonder wat daar anderkant in die lang gras aangaan nie.”

Dié tong-in-die-kies-opsomming van sy geskiedenis met die Gary Player-klub spruit uit agt dae van swoeg en sukkel om sy merk in 2016 en 2017 in die Sonstad-toernooi te maak.

Toe Stone twee jaar gelede, as die heersende Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, sy Nedbank-debuut gemaak het, het hy op 22 houe oor baansyfer 69ste uit 72 spelers geëindig.

Verlede jaar was nie veel beter nie. Terwyl sy landgenoot Branden Grace die tien jaar lange Suid-Afrikaanse wendroogte in die toernooi beëindig het, was Stone ná rondes van 76, 79, 75 en 70 net 66ste.

Dit kan net beter gaan vanjaar.

“Kyk, ek hou nie van verskonings maak nie, maar ek het besef ek was met albei daardie toernooie sielkundig gaar aan die einde van ’n lang seisoen. Dis hoekom ek dié jaar lank afgevat het ná die Amerikaanse PGA-kampioenskap, omtrent vyf weke, sodat ek net my batterye kon herlaai.

“Hopelik help dit my vanjaar by Sun City om varser te voel en nie teruggehou te word deur my energievlakke nie,” sê Stone.

Wat ook nie buite rekening gehou moet word nie, is die verskil tussen Stone se huidige seisoen en die vorige twee.

Hy het 2016 afgeskop met ’n merkwaardige deurbraak-sege in die SA Ope en ’n Olimpiër geword, maar ook gesukkel om sy voete in die Europese reeks te vind. In 2017 het ’n nukkerige setyster en twyfel in sy swaai hom teruggehou en sien uitsak tot 180ste op die wêreldranglys.

Hopelik help dit my vanjaar by Sun City om varser te voel en nie teruggehou te word deur my energievlakke nie,
Brandon Stone

Gholf was ’n frustrerende saak – tot een wonder-Sondag in Julie in Skotland alles skielik verander het.

Stone het die laaste ronde van die Skotse Ope in die 11de plek begin, maar teen die einde van die dag met ’n trofee in die hande gestaan nadat ’n ronde van 60 hom ’n sege met vier houe besorg het.

Hy was blote millimeters weg van die Europese reeks se heel eerste 59, maar dit het nie saak gemaak nie. Sy plek in die volgende week se Britse Ope was bespreek, sy spelerskaart in die Europese reeks was vas – en alle twyfel in sy gemoed was in ’n oogwink weg.

Drie weke later het hy verdere vrugte gepluk met ’n 12de plek in die PGA-kampioenskap.

“Ek dink ek het vir ’n lang tyd meer gefokus op die proses van beter word as op die genot van gholf, en die uitslae was nie goed nie. Van Skotland af is alles anders, want ek voel ek kan nou weer met meer vryheid speel, omdat die druk van my spelers­kaart nou weg is en ek my selfvertroue terug het,” sê hy.

“Jy moet besef perfeksionisme is onverkrygbaar en eerder die lekker van gholf najaag. Daardie perspektief verander baie dinge.”

Die week in St. Louis, Missouri, in Augustus, in die 100ste PGA-kampioenskap, was volgens die jong Pretorianer nog ’n belangrike mylpaal op sy pad, om dat dit hom gewys het waartoe hy in staat is op die heel grootste verhoog.

“Ek het nog altyd geglo ek kan meeding in die majors, maar jy moet dit natuurlik ook eers aan jouself bewys, en dit het ek nou gedoen,” sê Stone.

“Nou sien ek regtig uit na volgende jaar se majors, waar ek hopelik kan voortbou op die PGA. Die goeie uitslae van die laaste paar maande het wondere gedoen vir my, en dit sal goed wees as ek nou in die Suid-Afrikaanse somer ook weer ’n hoogtepunt of twee kan kry. Ek glo dis haalbaar.”

Die vyf weke wat Stone tussen die PGA-kampioenskap en verlede maand se Dunhill Links-toernooi afgevat het, is nie net gemors op agteroor sit nie – inteendeel.

Die jong kampioen het laat in September die strop om die nek gekry toe hy en Anette, sy jare lange vriendin, getroud is. Daarna het ’n week van wittebrood in Zambië gevolg, voordat hy terug is gholfbaan toe – en sy bruid teruggekom het huis toe.

“As die huwelik enigsins soos die troue is, gaan ons ’n goeie lewe hê,” lag Stone.

“Ons het ongelukkig nog nie veel van mekaar gesien as getroudes nie, want nadat sy saam met my Dunhill toe is, moes sy huis toe kom vir eksamens, want iemand moet darem slim wees in hierdie verhouding.

“Sy is besig met haar finale jaar in kriminologie, so ek weet ek beter in my spoor trap rondom haar.”

Die twee sal mekaar darem môre weer sien, wanneer Stone in die land aankom vir die komende week se Sonstad-skouspel.

Daarna sal hy oorhop na Dubai, vir die Europese reeks se jaareindtoernooi, die DP-wêreldkampioenskap.

Sy doelwitte vir dié toernooie is duidelik.

“Ek is nou 18de op die Race to Dubai-lys, so ek kan nog in die top-10 klaarmaak met twee goeie weke in Suid-Afrika en Dubai. Dit sal regtig baie vir my beteken, want verlede jaar het ek nie eens gekwalifiseer vir Dubai nie,” sê Stone.

  • Die deelnemerslys vir die komende week se Nedbank-toernooi is nog nie gefinaliseer nie, omdat dit saamgestel word op grond van die Race to Dubai-lys.

Die voorste 66 spelers kwalifiseer outomaties, maar aangesien heelwat van die top-spelers ’n blaaskans voor die DP-kampioenskap gaan neem, kan spelers buite die top-70 ook verwelkom word by die Sonstad.

Een van dié spelers is die Suid-Afrikaner Trevor Immelman, wat 79ste is, maar wel by Sun City te sien sal wees.

Voor Grace se sege verlede jaar was Immelman die laaste Suid-Afrikaner wat die kristaltrofee omhoog kon hou, in 2007. Die lewe het daarna allerhande mal draaie met hom geneem: eers die Amerikaanse Meesterstitel in 2008, toe jare van beserings en die verlies van sy spelpeil – maar vanjaar weer dae waarin hy begin lyk het soos die wêreldster van ouds.

Sy groot hoogtepunt van 2018 was ’n derde plek in die Skotse Ope.

Grace keer terug om sy titel te verdedig, maar hy kon in Augustus laas in die top-30 van ’n toernooi eindig. Hy sal hoop die Groen Monster ontsluit die komende week weer sy heel beste.

In die sterk Suid-Afrikaanse kontingent is ook spelers soos Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel, Dylan Frittelli en Erik van Rooyen.

Van Rooyen het nog nooit tevore in die Nedbank-uitdaagtoernooi gespeel nie, maar bevind hom in die 34ste plek op die Dubai-lys ná ’n jaar wat vier top-10-uitslae en ’n 17de plek in die Britse Ope opgelewer het.

Die grootste trekpleister van die toernooi sal sonder twyfel Rory McIlroy, die wêreld se nr. 5- speler, wees.

Die Noord-Ier was in 2009 by Sun City, maar het voor die toernooi siek geword en nie gespeel nie. Sy teenwoordigheid by vanjaar se toernooi is reeds vroeg in die jaar bevestig, en as die groot skares wat hy in 2017 na die SA Ope gelok het ’n aanduiding is, sal Sun City volgende naweek uit sy nate bars.

McIlroy se Ryderbeker-spanmaats, Sergio García en Lee West­wood (albei tweemalige wenners), sal ook by Sun City wees.

Meer oor:  Nedbank-Uitdaagtoernooi  |  Brandon Stone  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.