Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Hartstilstand – toe pot goud vir jong Morikawa

’n Maand gelede moes Collin Morikawa ’n drievoet-sethou sink om sy uitspeelstryd teen Daniel Berger in die Charles Schwab-uitdaagtoernooi in Amerika te verleng.

Toe word sy drome verydel deur ’n balletjie wat eerder gedans het op die lip van die blikkie as om in te val.

Melkskommel – en ’n trofee. Collin Morikawa kon uiteindelik Sondag by die trofee-oorhandiging van die Workday Charity-toernooi ontspan – ná ’n dag waarin hy diep moes delf om staande te bly. Foto: Getty Images

Sondag in die Workday Charity-toernooi in Dublin, Ohio, het ’n tweevoet-sethou tussen hom en ’n uitspeelstryd teen Justin Thomas gestaan. Wéér het die bal op die blikkie getol – maar dié keer het swaartekrag gewen. En ’n uur later ook Morikawa nadat hy Thomas se teenspoed op die derde putjie van die uitspeelstryd perfek uitgebuit het.

Die 23-jarige Morikawa kan homself ná net 24 toernooie ’n tweemalige wenner in die Amerikaanse PGA-reeks noem nadat hy laaste in ’n merkwaardige uitspeelstryd gelag het.

Reeds op die eerste putjie was dit duidelik dat hy en Thomas met yster in hul are aangetree het. Eers het Thomas ’n voëltjie-sethou van 50 voet gesink om al die druk op die jonger Amerikaner te laai – en toe antwoord Morikawa met ’n voëltjie van 24 voet af.

By die volgende putjie het die 23-jarige so byna nog ’n voëltjie aangeteken, en by die derde het hy sy naderhou tot tien treë van die vlaggie geslaan nadat Thomas agter ’n boom langs die skoonveld beland het.

En tog was die uitspeelstryd nie die bepalende oomblik in die toernooi nie. Daardie tweevoet-sethou op die 18de was die een wat die tonge laat klap het en Morikawa so byna ’n hartstilstand gegee het.

Daardie drie uitspeelputjies was harde werk.

“Ja, my hartklop het seker ’n miljard keer opgehou,” het hy volgens Golf.com gespot oor dáárdie tollende balletjie. “Ons praat baie oor gemak en swak sethoue. Maar dit is regtig nie die oomblik wanneer dít moet gebeur nie. Gelukkig was die blikkie my genadig. En wanneer jy ’n geleentheid soos daardie kry, beweeg jy gou aan en begin aan die volgende putjie dink.”

Tog erken die jongeling sy verligting het nie die volgende putjie minder vreesaanjaend gemaak nie.

“Ek was nie so ontspanne soos ek graag sou wou wees by die eerste putjie nie, maar gelukkig het ek by die tweede beter gevoel,” het hy volgens Reuters gesê.

“Justin sou niks vir my op ’n skinkbord gee nie, hy het die hele dag lank geveg. Daardie drie uitspeelputjies was harde werk. Kyk na Justin se voëltjie op die eerste putjie – ek moes myne ook sink of met leë hande huis toe gaan. Ek is net bly ek het meer ontspan soos wat die uitspeelstryd gevorder het. En nou . . . twee valbylstryde en ek het uiteindelik een oorleef.”

Morikawa se naam is nog nie een wat glad van alle gholfliefhebbers se tonge rol nie, maar daar is geen twyfel dat hy sy PGA-loopbaan uitmuntend begin het nie.

Hy het twee weke gelede in die Travelers-kampioenskap onder die valbyl beland – die heel eerste keer as ’n PGA-speler. Met naweek-aksie in al 22 sy eerste toernooie was sy visier ingestel op die rekord van 25 waarmee Tiger Woods sy loopbaan afgeskop het.

Morikawa kan maar net filosofies wees oor wat deur sy vingers geglip het.

“Dit (die mis van ’n afsnypunt) moes die een of ander tyd gebeur,” het hy gesê. “Nou kan ons seker maar ophou praat oor (Woods se rekord) en na die volgende toernooi aanbeweeg.”

En dit het hy inderdaad gedoen, en in styl. Hy was voor ná albei die eerste twee rondes in die Workday-toernooi op Muirfield Village, en hoewel hy Sondag met drie putjies oor, drie houe agter Thomas was, het sy geloof nooit gewankel nie. Brouhoue vir Thomas op die 16de en 18de, tesame met ’n voëltjie op die 17de en daardie net-net-syfer vir die jonger speler, het die deur vir hom oopgemaak.

En aan die ander kant van dit alles het hy ’n pot goud gevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.