Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Heel ander Augusta wag dié keer

Augusta National, die tuiste van die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi, het ’n appeltjie te skil met die aanspraakmakers wat van Donderdag af hul jagtog na die gesogte groen wenbaadjie begin.

Die verdedigende Meesters-kampioen, Dustin Johnson, in aksie in vandeesweek se oefenronde op Augusta National. Foto: Getty Images

Ná ’n paar oefenrondes vandeesweek was die algemene konsensus dat die speeltoestande dié keer die groot gelykmaker gaan wees.

Die 84ste Meesters is verlede jaar weens die koronavirus-pandemie tot November uitgestel.

Geen toeskouers is toegelaat nie, die reën het skoonvelde lekker sag gemaak en die setperke ook. Die vlaggie kon aangeval word, die bal het bly sit as naderhoue dié teiken gehaal het.

Die gevolg: Dustin Johnson se oorwinning met ’n rekordtelling van 268, 20 beter as die baansyfer.

Die Amerikaner Bryson DeChambeau kan met sy massiewe bofhoue straks ’n groot voordeel op Augusta se syfer 5’s hê. Foto: Getty Images

Donderdag begin die 85ste Meesters in die maand waarin dit tradisioneel beslis word. Daar sál toeskouers wees. Glo net 12 000 per dag, maar darem mense wat gaan juig. Of, soos dit wil voorkom, na hul asems gaan snak.

Want die somerson het die baan drooggebak. Die skoonvelde is hard. Die setperke ferm. En blitsig. Vetgesmeerde bliksemstraal-blitsig.

As ’n mens so na van die voorste spelers luister, gaan Augusta dié keer straf uitdeel.

“Jy beter die baan respekteer. As jy dit nie doen nie, moet jy liewer nie hier speel nie. Augusta sal jou breek,” het die veteraan Phil Mickelson, wat reeds drie groen baadjies in sy hangkas het, vandeesweek ná sy oefenronde gesê het.

“Dis die eerste keer in ’n bitter lang tyd dat Augusta soveel uitdagings bied. Die baan het lanklaas respek afgedwing, maar hier is dit nou weer,” het die linkshandige Amerikaner bygevoeg.

Die fris bulletjie Bryson DeChambeau, Amerikaanse Ope-kampioen veral bekend om sy massiewe bofhoue, weet hy het straks ’n voordeel bo sy mede-deelnemers.

Op die syfer 5’s – daar is vier van hulle op Augusta – is hy straks met sy tweede hou binne bereik van die setperk. Die bal sal op die harder skoonvelde meters ver rol.

Maar hy is ook versigtig, want hy weet watter heidense hellings op daardie perfek gemanikuurde setperke met sy versteekte op- en afdraandes wag.

“Ek het nog nooit die setperke so vinnig gesien nie. Dis nou as jy die bal gestop kry. Maar ek sien uit na die uitdaging,” het die spiertier Woensdag gesê.

“Die 17de (syfer 4), byvoorbeeld . . . die blikkie is so geplaas dat jou bal van die setperk sál afrol as jy dit net ’n handbreedte verby die vlaggie laat land. Letterlik ’n handbreedte te ver en als is verlore.”

Spanje se Sergio García, kampioen in 2017, tree aan vir sy 22ste Meesters. Hy kén die baan. Maar hy erken hy het dié toestande nog nooit voorheen beleef nie.

“Ek het al baie oefenrondes op die baan gespeel, te veel om te onthou. Die setperke was nog nooit so blitsig nie. As die weer bly soos dit nou is – warm, met ’n matige briesie – kan ons een helse uitdaging van Augusta te wagte wees,” aldus die Spanjaard.

En wat sê die verdedigende kampioen, wat gaan probeer om slegs die vierde speler naas Tiger Woods, Nick Faldo en Jack Nicklaus te word om agtereenvolgende Meesters-titels te verower?

“Dis nie ’n maklike baan in makliker speeltoestande (soos in November) nie. Maar nou . . . dis die tipe baan waar enige putjie jou droom-telkaart in ’n nagmerrie kan verander. Daar is net nie so iets soos ’n maklike putjie hier nie, veral nie soos die baan nou speel nie,” het Johnson gesê.

Rory McIlroy, viermalige major-wenner wat nog net die Meesters-titel kort om die gesogte Grand Slam te behaal, het straks die antwoord op wat dit gaan verg om Augusta te tem.

“Die hoogste premie is op akkurate spel. Om die bal in die skoonveld te hou, dit in die regte areas te land, foutlose ysterspel en senuwees van staal as jy op die setperk is,” het die Ier dit opgesom.

“Jy stop die bal moeilik op die setperke, so jy gaan ’n paar van hulle mis. Aanvaar dit maar. Hoe goed jy uit dié taai situasies kan ontsnap, gaan bepaal of jy ná twee rondes nog hier gaan wees.”

• TV: Donderdag vanaf 15:15 tot 01:30 op SS 201, 210 en 213; Vrydag vanaf 15:15 tot 01:30 op SS 201 en 213. – Sportredaksie, TeamTalk

Meer oor:  Amerikaanse Meesterstoernooi  |  Georgia  |  Augusta  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.