Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
'Hideki gaan wêreldgholf op sy kop keer'

Hideki Matsuyama se geskiedkundige oorwinning in die Amerikaanse Meesterstoernooi gaan wêreldgholf op sy kop keer.

Dit is die voorspelling van Tiger Woods nadat Matsuyama Sondag in die Meesterstoernooi by Augusta met een hou geseëvier het.

Hideki Matsuyama omhels Sondag Shota Hayafuji, sy joggie, op Augusta se 18de setperk nadat hy die Amerikaanse Meesterstoernooi gewen het. Foto: Getty Images

Hy het daarmee die eerste Japannees geword wat een van die vier groot toernooie van die spel kon wen.

Woods, wat dié major se gesogte groen baadjie vyf keer verower het, het Matsuyama op Twitter geloof.

“Jy maak Japan trots, Hideki. Geluk met so ’n groot prestasie vir jou en jou land. Hierdie historiese sege gaan ’n impak op die hele gholfwêreld hê,” skryf Woods.

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Ernie Els het dit as ’n groot dag in internasionale gholf beskryf.

Els is ’n voormalige kaptein van die Internasionale span (wat in die Presidentebeker-toernooi teen Amerika speel), waarvan Matsuyama ’n lid was.

Hopelik sal hulle die oorwinning sien en dink dit is 'cool' en my dit probeer nadoen.
Hideki Matsuyama

“Ek is so trots op jou en so ook die hele Internasionale span. Welgedaan, Hideki!”

Matsuyama (29) hoop sy sege sal jong landgenote inspireer om in sy voetspore te volg, soos Woods nadat hy in 1997 sy eerste major gewen het.

“Ek hoop dit sal ’n goeie invloed op die spel hê, nie net op mense wat reeds gholf speel nie, maar ook jong mense wat die spel oorweeg.

“Hopelik sal hulle die oorwinning sien en dink dit is cool en my pdit robeer nadoen,” het Matsuyama met die hulp van ’n tolk gesê.

Hy is nou ’n superster as hy nie reeds een was nie.
Adam Scott

Adam Scott, die Meesters-kampioen in 2013 en die enigste Aussie wat dié toernooi kon wen, sê dit is die begin van “Matsu-mania” in Japan.

“Hy het in Japan dieselfde aanhang as wat Tiger Woods oor die wêreld heen het.

“Hy is nou ’n superster as hy nie reeds een was nie.”

Matsuyama was Sondag ’n man van min woorde toe verlede jaar se kampioen, Dustin Johnson, 2021 se groen baadjie om sy skouers gehang het.

Sy toespraak was ’n volle twee sinne. Hy het in Japannees gesê dit is ’n groot eer om die toernooi te wen en het die ondersteuners bedank dat hulle agter hom gestaan het.

Hy het toe die podium verlaat.

Sy tolk, Bob Turner, het hom vinnig daaraan herinner om die Augusta-klub en sy lede te bedank.

Gereed om die golf van 'Matsu-mania' te ry. Hideki Matsuyama is die nuwe eienaar van Augusta se groen baadjie. Foto: Getty Images

“Ek wil veral die lede van die Augusta National-klub bedank,” het Matsuyama vir ’n tweede keer afgesluit voordat hy albei arms in die lug gehou het.

Matsuyama verkies in elk geval dat sy gholfstokke op die baan die praatwerk doen.

Hy het Sondag met ’n gerieflike voorsprong van vier houe afgeslaan, danksy ’n briljante en foutlose 65 – sewe houe beter as baansyfer – in die derde ronde.

Sy 73 (+1) in die vierde ronde was genoeg om die jong Amerikaner Will Zalatoris met een hou te klop.

• Dit was weer ’n teleurstellende major uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt.

Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel, wat albei gesamentlik 26ste geëindig het, het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar.

Els was die laaste Suid-Afrikaner wat ’n major-titel kon wen toe hy in 2012 in die Britse Ope met die louere weggestap het.

Suid-Afrika het in daardie stadium vier major-wenners in vyf jaar opgelewer – Trevor Immelman (2008, Meesterstoernooi), Louis Oosthuizen (2010, Britse Ope), Charl Schwartzel (2011, Meesterstoernooi) en Els.

Plaaslike gholfliefhebbers het sedertdien min gehad om oor opgewonde te raak.

Meer oor:  Augusta  |  Meesters  |  Gholf  |  Hideki Matsuyama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.