Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Higgo betree Europese wenkamp

Ná net sewe toernooie op die Europese reeks kan Garrick Higgo kraai oor iets waarvan spelers veel ouer en meer ervare as hy steeds droom: hy is nou ’n Europese wenner.

’n Breë glimlag oor ’n gróót hoogtepunt. Die Stellenbosser Garrick Higgo pronk trots met sy trofee ná hy die Portugese Ope Sondag gewen het.Foto: Getty Images

Die 21-jarige Stellenbosser het Sondag gewys die lofgesange wat sedert sy amateurdae oor hom gesing is, was nog altyd in die kol, toe hy die Portugese Ope in Obidos met een hou gewen het.

Die Suid-Afrikaanse jongeling het Sondag ’n foutlose ronde van 65 (sewe houe minder as baansyfer) gespeel om op 269 (-19) ’n hou voor die Spanjaard Pep Angles (66) te eindig. Nog ’n Suid-Afrikaner, George Coetzee, wat verlede week sy heel eerste Europese titel buite Afrika gewen het, was derde op 273 ná ’n ronde van 66.

Higgo het die laaste ronde ’n hou agter die Portugees Vitor Lopes begin, maar sy agterstand in ’n oogwink uitgevee met vyf voëltjies oor die eerste agt putjies.

Hy het gestorm tot ’n voorsprong van drie houe met drie putjies oor, maar Angles het voëltjies by al drie sy laaste putjies aangeteken om al harder in Higgo se nek te blaas.

Die Stellenbosse melkbaard moes uiteindelik met ’n voëltjie van sy eie by die agttiende seker maak hy vermy ’n uitspeelstryd.

Die sege volg ná ’n uitmuntende naweek waarop Higgo geen brouhoue op sy telkaart ingevul het nie. Om die waarheid te sê het hy die hele week lank net drie brouhoue aangeteken, met die laaste daarvan Vrydag by sy tiende putjie.

Die sege in Portugal is een wat sy lewe nou dramaties gaan verander, aangesien dit hom van volle spelersregte op die Europese reeks verseker.

“Dit voel fantasties,” het Higgo ná sy sege volgens die Europese reeks se webblad gesê. “Ek het gedink ek gaan ’n makliker tyd oor die laaste drie putjies hê, maar (Pep) het my lewe bietjie moeilik gemaak. Daardie voëltjie by die laaste putjie was uiteindelik baie, baie lekker.

“Ek kon beter gevaar het, maar gholf is altyd so,” het hy bygevoeg. “Ek dink nie ek het enige brouhoue oor die laaste twee dae gemaak nie, so ek was net regtig, regtig skerp. My kortspel was goed en ek het drie keer van langs die setperk ingekap. Elke keer wat ek uit posisie was, het ek herstel.”

Higgo het verlede jaar eers ’n beroepspeler geword, maar in net sy vyfde toernooi in die geldgeledere op die Sonskynreeks gewen. In Februarie het hy dié reeks se Toer-kampioenskap gewen om die titel van Nuweling van die Jaar te verseël.

Min sou hy toe kon droom 2020 sou nóg beter word.

Meer oor:  Gholf  |  Portugese Ope  |  Europese Reeks  |  Garrick Higgo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.