Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Higgo wil soos Springbokke maak

In die laaste twee maande het Garrick Higgo reeds dinge op die gholfbaan vermag wat laas van ’n Suid-Afrikaner gesien is toe Gary Player in sy fleur was.

Geen wonder nie dat hy nou daarvan droom om in nóg groot voetspore te volg: dié van die Springbokke.

Garrick Higgo vlieg die laaste maande baie hoog – en boonop wag nog ’n paar groot geleenthede in die komende weke. Foto: Reuters

Die 22-jarige Stellenbosser het Maandag bevestiging gekry dat hy aanstaande maand ’n Olimpiër sal word, nadat sy status as Suid-Afrika se naasbeste speler hom die jawoord gegee het. Met Louis Oosthuizen wat besluit het om nie na Tokio te reis nie, sal Higgo sy land nou saam met Christiaan Bezuidenhout verteenwoordig – en nie net om die nommers vol te maak nie.

“Ek gaan Spele toe en ek dink dit gaan fantasties wees,” het Higgo Woensdagmiddag op ’n videokonferensie voor vandeesweek se Travelers-kampioenskap in Connecticut gesê.

“Dit gaan lekker wees om saam met Christiaan daar te wees, want ek ken hom en sy joggie goed. Ek beskou dit as ’n massiewe voorreg om te kan gaan en hopelik kan ons goud verower. Ek dink dit sal regtig baie vir die land beteken, met alles waardeur almal in Suid-Afrika die laaste tyd is.

“Iets soos dit sal soortgelyk aan die (Springbokke se) Wêreldbeker-sege in 2019 wees,” sê Higgo.

Om ’n jongeling in net sy derde seisoen as beroepspeler te hoor praat van iets so groot soos Olimpiese goud sal die meeste mense waarskynlik verras, maar dit het in die laaste paar maande duidelik geword dat Higgo nie sommer enige jongeling is nie.

Toe hy in sy sewende toernooi in die Europese reeks verlede jaar gewen het, het ’n mens vermoed hy staan aan die begin van ’n baie spesiale loopbaan.

Maar die almanak moes oorslaan na 2021 vir bevestiging daarvan.

Ek het lesse geleer, soos in elke toernooi, en dit was nie noodwendig die slegste ding om die afsnypunt te mis nie, ná alles wat in die dae voor dit gebeur het.

Binne 14 dae in April en Mei het die jongeling nóg twee keer in Europa gewen (albei kere met rekord-tellings) en toe na die VSA gevlieg om die afsnypunt in sy heel eerste major-toernooi (die PGA-kampioenskap) te oorleef.

Net drie weke daarna het hy voorverlede Sondag ’n wenner in die Amerikaanse PGA-reeks geword, in net sy tweede toernooi op dié verhoog, en vir die eerste keer tot in die top-40 op die wêreldranglys geklim.

Net een ding omtrent sy sege in die Palmetto-kampioenskap krap ’n klein bietjie aan hom: die tydsberekening.

Die triomf het gekom net vier dae voor sy buiging in die Amerikaanse Ope en net vyf dae voor hy die afsnypunt met twee houe gemis het.

“Die oorwinning het beslis ’n impak gehad op hoe ek in die Amerikaanse Ope gevaar het. Ek was sielkundig nogal uitgeput,” het Higgo erken.

“Boonop het my joggie Nick (Cavendish-Pell) die Maandag voor die Ope gehoor sy vrou is in kraam en dadelik begin planne maak om Londen toe te vlieg, so ek het iemand nuut as joggie gehad.

“Ek is bly dat ek ondanks dit alles nog steeds orraait kon speel. Eindelik was ek net ’n keer of wat ongelukkig met die spring van die bal en ek het die afsnypunt darem nie met te veel houe gemis nie, so daar is positiewes om uit die toernooi te neem.

“Ek het lesse geleer, soos in elke toernooi, en dit was nie noodwendig die slegste ding om die afsnypunt te mis nie, ná alles wat in die dae voor dit gebeur het.

“Maar ’n deel van my voel tog dit sou goed gewees het as daardie eerste oorwinning in die PGA-reeks nie so kort voor ’n major gekom het nie.”

Moet egter nie dink Higgo tob daaroor nie. Danksy sy Palmetto-triomf kan hy nou vir die volgende twee jaar in enige van die PGA-reeks se toernooie speel – en hy glo vas dit gaan ’n reuse-sukses wees.

“Gelukkig het ek ’n jaar in Amerika kom studeer, so die bane hier is nie vir my ’n verrassing nie,” sê hy.

“My gholf het sedertdien verbeter, so nou speel ek op bane wat ek ken, met ’n beter game. En sover werk dit goed uit,” sê hy.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Gholf  |  Tokio-Spele  |  Garrick Higgo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.