Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dit is hoogtyd! sê Charl Schwartzel

Dit is hoogtyd!

Dít was Vrydag ’n borrelende Charl Schwartzel se antwoord toe hy gevra is hoe dit sal voel om uiteindelik – 88 maande ná sy sege in die Amerikaanse Meesterstoernooi – weer ’n major-kampioenskap te wen.

Absolute fokus . . . Charl Schwartzel het Vrydag die algehele rekord van 63 in die Amerikaanse PGA-kampioenskap geëwenaar nadat veral sy setyster vuurwarm was.Foto: GETTY

Die 33-jarige Suid-Afrikaner is dié vraag Vrydag gevra nadat hy hom in die Amerikaanse PGA-kampioenskap tot reg in die titelwedloop gelanseer het met ’n ronde van 63 (sewe houe minder as baansyfer).

Schwartzel was in die derde plek toe sy tweede ronde by die Bellerive-buiteklub in St. Louis, Missouri, Vrydag geëindig het. Nadat die ronde gister voltooi is, was hy op 133 (-7) gesamentlik vyfde saam met die wêreld se voorste speler, Dustin Johnson (66).

Die Amerikaner Gary Woodland het die pas ná ’n 66 aangegee op 130 (10-onder), die laagste 36 putjie-totaal in die geskiedenis van die PGA-kampioenskap.

“Dis ’n goeie posisie om in te wees en daar is nog baie putjies oor,” het Schwartzel Vrydag volgens AFP gesê. “Ons sal moet aanhou vuur blaas. By die meeste majors raak die naweke moeilik, maar hier dink ek gaan jy moet aanhou voëltjies aanteken. Ek sien uit daarna om weer mee te ding in ’n major. Dit raak nie beter as dit nie.”

“Meeding in ’n major” is nie iets wat Schwartzel juis onlangs gedoen het nie. Hy het die afsnypunt in vier van die laaste ses majors op die kalender (waaronder al drie vanjaar se eerstes) gemis sedert hy verlede jaar derde by Augusta was.

In ’n onbestendige 2018 het hy in 16 toernooie ses keer onder die valbyl beland en teen April tot buite die top-60 op die wêreldranglys geval. ’n Tweede plek in die PGA-reeks se Spelerskampioenskap was ’n welkome opflikkering, maar een van net drie top10-uitslae tot dusver vanjaar.

“Dit het maar op en af gegaan, maar ek voel asof ek uiteindelik beter gholf begin speel,” het Schwartzel Vrydag gesê.

Inderdaad. Die Suid-Afrikaner was in sy tweede ronde veral uitmuntend op die setperke en skoonvelde, en is net die 16de speler tot nog toe wat die PGA-kampioenskap se rekord van 63 aanteken.

Hy het ’n kans gehad om hom aan te sluit by sy landgenoot Branden Grace as een van net twee mans wat 62 op die major-verhoog aanteken, maar het tekort geskiet.

Nietemin het hy en die Amerikaanse Ope-kampioen, Brooks Koepka, geskiedenis gemaak deur albei 63 aan te teken. Dis die eerste keer sedert 1980 en net die tweede keer nog dat twee spelers op dieselfde dag 63 op ’n major-telkaart invul.

  • Waar Schwartzel se vertoning in St. Louis ’n yslike hoogtepunt in sy major-seisoen is, is sy landgenoot Brandon Stone vandeesweek vir die tweede keer in ’n ry breëbors in ’n grote.

Stone was ná die tweede ronde vier houe agter Woodland in die negende plek ná ’n ronde van 68.

Die 25-jarige speler het verlede maand die Skotse Ope gewen ná ’n laaste ronde van 60 en ’n week later vir die eerste helfte van die Britse Ope stem dik gemaak.

Hy is uiteindelik gemaklik op die major-verhoog, het hy Vrydag gesê.

“Ouens in dié posisie droom daarvan vandat hulle vyf of ses jaar oud is,” het hy volgens die Tampa Bay Times gesê. “Ek voel regtig nou gemaklik met my gholf. Ek speel goed en my ritme is die hele week al uitmuntend. Ek is presies waar ek wil wees.”

Branden Grace (138 ná ’n 70) en Dylan Frittelli (140; 67) was die ander Suid-Afrikaners wat die afsnypunt oorleef het. Justin Harding (142; 70) en die klubspeler Johan Kok (151; 73) was nie so gelukkig nie.

  • Die tweede ronde is eers gisteroggend voltooi nadat gevaarlike weer spel Vrydag tot ’n vroeë einde gedwing het.

Rickie Fowler, die klubhuisvoorloper ná die eerste oggendsessie, het die sonnige toestande uitstekend benut om die leer te klim tot die vierde plek, twee houe agter Woodland.

Hy het vyf voëltjies en twee brouhoue in ’n ronde van 67 aangeteken.

Justin Thomas (65), verdedigende kampioen, is op 5-onder goed geplaas, terwyl Tiger Woods (66) op 4-onder ook die skares wat by St. Louis is om hom te ondersteun, hoop gegee het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.