Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Ierland se juweel gee Ope nuwe geur

Wanneer jy Donderdagoggend sit en kyk na die eerste beelde van vanjaar se Britse Ope, na die breë glimlagte en breëbors-houding waarmee die Noord-Iere by Royal Portrush se hekke instap en die bulderstemme waarmee hulle die wêreld se voorste gholfspelers ondersteun, doen moeite om vir hulle te glimlag.

Daar is immers berge versit om daardie glimlagte op hul gesigte te plaas.

Die Engelse speler Max Faulkner (1916-2005) speel by die vyfde putjie om die Britse Ope in 1951 by Royal Portrush te wen. Foto: getty

Europa se glansrykste gholftoernooi sal die komende week vir die eerste keer in 68 jaar op die sandduine en swenkgras van Royal Portrush plaasvind – minder as vier jaar nadat ingestem is om die ou baan ’n gesigsontrimpeling soos min te gee. ’n Ondergrondse water- en rioolstelsel is aangebring, £16 miljoen se paaie en ’n nuwe treinstasie is gebou. En die 17de en 18de putjies is prysgegee sodat die Britse Ope se magdom tente daar opgeslaan kan word. Twee putjies van die Valley Links-baan, reg langs Portrush, vorm nou deel van ’n uitleg waarvoor die room van die gholfwêreld hul lippe aflek.

Maar pasop vir die Ope se nuwe geur en kleur. Die sukkelveld is rof en die wind nog rowwer. So daar’s oorgenoeg byt in die dierasie.

“Ek hou van al die veranderinge,” het Darren Clarke, een van Noord-Ierland se gunsteling-gholfseuns, aan Golf.com gesê. “Dis soos ’n juweel wat nou gepoleer is.”

Darren Clarke staan op die skilderagtige baan met die beker waarvoor 154 spelers van Donderdag af gaan meeding. Foto: Getty

Dis in ’n groot mate danksy Clarke dat Portrush uiteindelik terug op die Britse Ope se rooster van bane is. Die oggend nadat hy dié toernooi in 2011 gewen het, is hy leepoog en in ekstase na dié baan van sy jeug, om sy goue medalje daar in die klubhuis te laat ophang.

Langs die een wat Fred Daly in 1947 gewen het, en wat ’n jong Clarke vir jare geïnspireer het.

Dit was op daardie oggend wat Clarke die saadjie geplant het: Waarom kan die Ope nie terugkom Portrush toe nie? Ja, die laaste twee putjies is saai. Ja, die infrastruktuur is nie goed genoeg nie. Ja, Noord-Ierland is gehul in ’n brose vrede. Maar . . . máár.

Die grootste máár was dat Clarke die vorige dag Noord-Ierland se derde major-kampioen in net 13 maande geword het, ná Graeme McDowell en Rory McIlroy se Amerikaanse Ope-suksesse. Gholf was skielik voorop in Noord-Iere se gedagtes. ’n Jaar later, toe die Ierse Ope vir die eerste keer in 65 jaar by Royal Portrush aangebied word, is dit onderstreep. ’n Nuwe Europese rekord van 112 000 toeskouers het opgedaag. Dit was die absolute maksimum wat die toernooi kon hanteer.

Ek hou van al die veranderinge. Dis soos ’n juweel wat nou gepoleer is.
Darren Clarke

Die droom van ’n Ope in Noord-Ierland was op stewige bene – en tog erken sowel Clarke as McDowell nou hulle het getwyfel of dit sou waar word. “Ek onthou toe daaroor begin praat is. Dit het onmoontlik gelyk,” sê McDowell.

“Ek het ’n klomp gholf hier gespeel. Ek het hier gewoon en was ’n trotse lid hier, maar om te dink ons sou deur Noord-Ierland se donker dae kom en weer die grootste en beste toernooi ter wêreld aanbied . . . Ek sou ’n dwaas wees om dit te verwag,” het hy aan Ierland se Independent gesê.

Wel, dit het gebeur. Die Ope gaan Portrush toe. Portrush, ’n baan wat soveel vir Clarke self beteken het. Portrush, waar McDowell as 13-jarige vir die eerste keer ingesluip het en gevoel het hy is in ’n gholfhemel. Portrush, waar McIlroy as 16-jarige ’n baanrekord van 61 opgestel het.

Vanselfsprekend sal alle oë van Donderdag af op dié trio wees. Van die drie is McIlroy, die wêreld se nr. 3-speler en nou ’n viermalige major-wenner, die een met die beste kans om te wen. Maar daar is 153 ander mans wat ter wille van persoonlike glorie alles moontlik gaan doen om in die pad van ’n Noord-Ierse sprokie te kom.

Die Amerikaanse aanslag is oudergewoonte bitter sterk. So desperaat is Tiger Woods om sy eerste Ope-kroon in 13 jaar te wen, dat hy die laaste paar weke tweeuur in die oggend opgestaan het om sy lyf op Britse tyd te kry. Brooks Koepka, Dustin Johnson, Justin Thomas en Rickie Fowler is maar net enkeles wat hoop om die VSA se vierde major-kroon van 2019 te verower.

Vanuit Engeland sal ysters soos Justin Rose, Ian Poulter, Tommy Fleetwood en Paul Ca­sey probeer pretbederwer speel. En Suid-Afrika sal minstens tien verteenwoordigers hê.

Onder hulle tel die voormalige kampioene Ernie Els en Louis Oosthuizen. Laasgenoemde was ’n faktor in al drie die jaar se eerste major-toernooie.

Branden Grace en Justin Harding se wêreldranglys-posisies het hulle in die toernooi gekry. Zander Lombard is daar as die Sonskynreeks se geldwenner en Shaun Norris danksy ’n goeie 2018 in die Asiese reeks, en Brandon Stone, Richard Sterne en Erik van Rooyen danksy skitterspel in Europa.

Die nuutste toevoeging tot die lys is die jong Christiaan Bezuidenhout, wat twee weke gelede as wenner van die Andalusië-meesterstoernooi gekwalifiseer het.

Vir dié 25-jarige is hierdie Ope ’n volsirkel-gebeurtenis. Vyf jaar gelede is hy by die einste Port­rush, tydens die Britse Amateurkampioenskap, positief getoets vir die gebruik van beta-blokkers. Dít het hy gebruik weens angstigheid wat sy jare van hakkel veroorsaak het. Hy is vir nege maande geskors, maar het daarna sterker en beter teruggekom.

Nou wag sy Britse Ope-debuut by die einste Portrush.

Meer oor:  Gholf  |  Britse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.