Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Is Collin die nuwe Tiger? Waarskynlik nie
Collin Morikawa is wêreldgholf se nuutste sensasie ná ’n komkommerkoel vertoning in die laaste twee rondes van verlede week se Amerikaanse PGA-kampioenskap. Foto: AP

Nog ’n major-toernooi . . . nóg uitbundige krete oor die vonds van die “volgende Tiger Woods”.

Sedert Collin Morikawa Sondag in San Francisco die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen het deur hardebaarde soos Dustin Johnson, Jason Day en Paul Casey van die deur te hou, is die gholfwêreld in ekstase oor die geboorte van ’n nuwe ster.

Dat daar (al weer) vergelykings tussen dié jongeling en die legendariese Woods getref word, is nie heeltemal onverwags nie. Op 23 is Morikawa een van net vier spelers wat sedert die Tweede Wêreldoorlog die Wanamaker-trofee voor hul 24ste verjaardag kon lig. Die ander drie? Jack Nicklaus. Tiger Woods. Rory McIlroy.

Morikawa was verlede week in aksie in net die tweede major-toernooi van sy loopbaan en is in net sy tweede seisoen as ’n beroepspeler, maar het sodanig ys in sy are gehad dat hy die laagste naweek-totaal (129 houe) in die geskiedenis van major-gholf aangeteken het.

Dis nie aldag maklik om Tiger Woods te wees nie. Hy het die naweek in San Francisco 37ste geëindig. Foto: AP

Dat hy nie sukkel om druk te verwerk nie, is onderstreep deur die drie houe waarmee hy Sondag in die pylvak onder die res uitgeseil het: eers ’n suksesvolle kaphou vir ’n voëltjie van voor die 15de setperk en toe ’n bofhou reg na die 16de vlaggie en ’n kalm sethou vir arend.

Maar tussendeur al die lofsange oor dié nuwe sensasie, is daar wel een stem wat die res tot rustigheid probeer maan het.

Paul McGinley, ’n voormalige kaptein van Europa se Ryderbeker-span, sê dis onredelik om te voorspel dat ’n speler dieselfde hoë berge as die 15-malige major-kampioen Woods kan bestyg ná net een groot triomf.

Daar moet immers eers gekyk word of hy ewe koelkop sal bly terwyl sy hele lewe verander, soos wat hy die naweek op die baan was.

“Daar gaan ’n klomp geld meer na sy kant toe kom, sterstatus en aansienlik meer druk op sy skouers,” het McGinley aan Sky Sports gesê. “Hoe hy dít alles hanteer, sal bepaal hoe suksesvol hy in sy loopbaan sal wees.

“Die ou beskik oor iets en op die oomblik het hy ook selfvertroue. Maar kom ons veronderstel nie dadelik dat hy die nuwe Tiger Woods is en 15, 16 major-titels gaan opstapel nie. Kom ons gee hom tyd.”

Dis ’n nugtere aanmaning vir ’n gemeenskap wat die term “volgende Tiger Woods” in die afgelope twee dekades sodanig oorgebruik het dat dit nou al ’n cliché is.

Woods was self nog nat agter die ore, maar reeds in ’n klas van sy eie, toe die 19-jarige Sergio Garcia in 1999 met die etiket opgesaal is. Hy moes ’n verdere 18 jaar wag vir sy eerste grote.

Nadat hy die jaar met vier agtereenvolgende topvyf-uitslae begin het, het die koronavirus-pandemie Rory McIlroy se spoed sodanig gebreek dat hy in net een van sy laaste ses toernooie beter as 32ste kon eindig. Foto: USA Today Sports

Matt Kuchar, wat net twee jaar jonger as die legende is, is met die mantel opgesaal nadat hy in Woods se voetspore as Amerikaanse Amateur-kampioen gevolg het. Op 42 was hy steeds nie in die major-wenkamp nie.

In 2007 het die tonge reeds geklap oor die 18-jarige Rory McIlroy, wat daardie jaar die voorste amateur op die Britse Ope was.

Hy was 22 toe hy in 2011 die jongste speler nóg met ’n verdienste van €10 miljoen in die Europese reeks geword het, en het ’n jaar later ook die $10 miljoen-kerf in Amerika bereik. Teen Augustus 2012 was daar twee major-titels agter sy naam – albei ná oorwinnings met agt houe.

Dit voel onregverdig om McIlroy as gevallestudie vir die gevaar van die “nuwe Woods”-etiket te gebruik, want hy het die soort skitterloopbaan waarvan 99% van spelers net kan droom.

Maar as iemand in 2012 voorspel het McIlroy sou op sy 30ste verjaardag net vier grotes agter sy naam hê, sou hy uitgelag word. En tog is dit nou die Noord-Ier se werklikheid. Teen die tyd dat Woods 31 was, was hy ’n 12-malige major-wenner. McIlroy is 31 en het ’n derde soveel – met die laaste daarvan in 2014.

En dan is daar Jordan Spieth . . . ’n jong man wat aanvanklik wel die kalmte en volwassenheid gehad het om die druk van gholfsukses te hanteer, maar hom nou buite die wêreld se top-50 bevind ná drie jare sonder ’n oorwinning.

Jordan Spieth is in die stadium net ’n skaduwee van die speler wat hy in sy vroeë 20’s was. Foto: AP

Van 2013 tot 2017 (dus van voor sy 20ste verjaardag totdat hy 24 was) het Spieth 14 keer wêreldwyd gewen. Hy het drie major-titels agter sy naam en kort net ’n oorwinning in die PGA-kampioenskap vir die loopbaan-Grand Slam.

Toe hy so oud soos Morikawa was, is wyd geglo hy kon Woods se suksesse ewenaar, selfs verbysteek. Nou is hy 27 en op moedverloor se vlakte. En sy ondersteuners hou asem op om te sien of hy daaruit kan opstaan.

Daar is ’n belangrike les in die Spieth-verhaal – en in ’n mindere mate dié van McIlroy op die major-verhoog. Vir die meeste sterflinge is sukses ’n onbetroubare minnares. Vandag agtervolg sy jou oral, môre versaak sy jou.

Selfs Woods het dit gesien. Tussen 1996 en 2010 was hy tien keer die PGA-reeks se Speler van die Jaar. In daardie tydperk het hy 14 majors gewen, en altesaam 71 PGA-titels. Maar ’n persoonlike skandaal, ’n liggaam wat uitmekaar geval het en selfvertwyfeling het die sukses laat opdroog. Selfs wat deur baie as sy heel grootste oomblik bestempel is – verlede jaar se triomf in die Meesterstoernooi – was nie ’n katalisator vir sy terugkeer tot oorheersing nie.

Die feit is dat niemand die toekoms kan voorspel nie. Niemand weet hoe Morikawa sy nuwe status in wêreldgholf gaan hanteer nie. Niemand weet of sy lyf hom dalk eendag in die steek gaan laat, of sy setyster weldra in ’n permanente staat van nukkerigheid sal verval of daar ’n drama in sy persoonlike lewe sal opduik nie.

Om hom te bestempel as die volgende Tiger Woods, is domastrant. Daar sal nie weer so iemand wees nie.

Daar is net één Tiger Woods. Nes daar net een Rory McIlroy, net een Justin Thomas, net een Brooks Koepka en net een Collin Morikawa is.

En dis goed genoeg.

Meer oor:  Pga-Kampioenskap  |  Tiger Woods  |  Collin Morikawa  |  Gholf  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.