Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Katar: Jaco, Thomas onder 9 voorlopers
Jaco van Zyl kyk die bal Vrydag agterna of die negende bof van die Katar-meesterstoernooi. Foto: Getty Images

Toeskouers by die Doha-gholfklub is Vrydag getrakteer op iets wat die gholfwêreld baie selde sien: nege mans in die gesamentlike voortou in ’n professionele toernooi.

Die voorlopersbord van die Katar-meesterstoernooi het by die halfpadmerk ’n verkeersknoop soos min aan die bokant, met nege mans saam voor, sewe een hou agter hulle en nog tien twee houe terug.

Onder die nege pasaangeërs op 136 (agt houe minder as baansyfer) tel twee Suid-Afrikaners. Thomas Aiken is in die uitgelese groep danksy ’n foutlose ronde van 68 (-4) wat vier voëltjies opgelewer het, terwyl Jaco van Zyl hom laat in die dag by die voorlopers aangesluit het toe hy by sy laaste putjie die derde voëltjie van sy ronde van 69 (-3) aangeteken het.

Ook op 136 is die Engelsman Andy Sullivan (68), saam met wie Aiken in Saterdag se derde ronde sal speel, die eersteronde-voorloper Bradley Dredge (72), die Spanjaarde Jorge Campillo (67) en Nacho Elviro (68), Finland se Mikko Korhonen (71), die Koreaan Jeunghun Wang (67) en Thailand se Kiradech Aphibarnrat (70).

Van Zyl, wat in die derde ronde saam met Wang sal speel, het aan die Europese reeks gesê hy het die Katar-toernooi binnegegaan met ’n ander benadering as gewoonlik.

“Ek het aan die begin van die week vir my joggie, Jason, gesê ons is elke week so half in die middel van die pak en dit raak al amper ’n gemaksone. Ons het daarom besluit om dinge dié week anders as gewoonlik te benader – en sover gaan dit goed. Ek slaan die bal goed en is net jammer dat ek myself nie meer voëltjie-kanse oor my laaste helfte van die baan gegee het nie,” het die Johannesburger gesê.

Aiken het sy ronde met twee voëltjies afgeskop, maar moes daarna met 13 agtereenvolgende syfers tevrede wees voor hy weer houe in die pylvak kon inwin.

“Ek het net nie my kanse op die setperk benut nie, maar gelukkig kon ek darem twee voëltjies teen die einde aanteken,” het hy gesê. “Dis die tiende keer wat ek (in Katar) speel, so ek is nou al gewoond daaraan dat die wind van verskillende rigtings kom en wat by watter putjies van jou verwag word. Die wind kom ongelukkig vanjaar van heeltemal ’n ander kant af.”

Die laaste keer dat die Europese reeks nege gesamentlike voorlopers aan die einde van enige ronde opgelewer het, was in 2007 in Wallis. Maar wat die situasie in Katar so merkwaardig maak, is dat ’n yslike 26 spelers binne twee houe van die voortou is.

Onder die 26 tel ook Ernie Els (70) en Dylan Frittelli (67). Hulle is twee houe agter op 138 en in die 17de posisie.

Die hoogtepunt van Frittelli se dag was by die eerste putjie (sy tiende van die ronde), waar hy ’n arend aangeteken het. Hy was een van net drie spelers wat dít vermag het.

Meer oor:  Jaco Van Zyl  |  Thomas Aiken  |  Doha  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.