Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
JC-hul brul; Louis stadig uit blokke
Wanneer gholf ’n watersport word . . . Noorweë se Viktor Hovland word druipnat terwyl hy Donderdag ’n hou by die München-gholfklub se elfde putjie speel. Hovland het daar ’n brouhou aangeteken, maar sy eerste ronde in die BMW Internasionale Ope steeds in net 68 houe voltooi. Foto: Getty Images

JC Ritchie en Darren Fichardt het Donderdag seker gemaak die Suid-Afrikaanse vlag wapper sterk by die BMW Internasionale Ope in Duitsland, terwyl Louis Oosthuizen ’n so-so terugkeer tot gholf in Europa gehad het.

Ritchie, vroeër vanjaar die Kaapstad Ope-kampioen in die Europese uitdaagreeks, het Donderdag ’n goeie in München gehad en is ná ’n 66 (ses houe minder as baansyfer) net ’n hou agter die voorlopers. Hy het sewe voëltjies aangeteken.

Fichardt, ’n vyfmalige Europese wenner, is ’n verdere hou terug op 67. Hy het ’n baie kleurryke telkaart ingehandig, met vyf voëltjies, twee brouhoue en ’n arend op die vyfde putjie (syfer-4).

Suid-Afrika se JC Ritchie is net een hou agter ná die eerste dag van die BMW Internasionale Ope. Foto: Getty Images

Vier spelers het met ’n aandeel aan die voortou (7 beter as die baansyfer) gaan slaap, maar van hulle het net die Australiër Wade Ormsby sy ronde voltooi voor spel weens ongure weer gestaak is. Masahiro Kawamura en Sam Horsfield was op die 18de putjie en Sebastian Garcia Rodriguez op die 13de toe spelers gevra is om die baan te verlaat.

Dit was ook ’n goeie dag vir Shaun Norris, wat verlede maand in die Japanse reeks gewen het. Norris was op 4-onder, met een putjie oor in sy eerste ronde.

Vir Oosthuizen was sy eerste ronde in München frustrerend.

Die Suid-Kapenaar speel vandeesweek vir die eerste keer sedert Julie 2019 op die Europese vasteland, en ofskoon hy ses voëltjies op sy telkaart kon invul, is hy gekortwiek deur vier brouhoue.

Oosthuizen het Sondag tweede in die Amerikaanse Ope geëindig, maar ondanks die emosionele tol daarvan sy verbintenis tot die organiseerders van die BMW-toernooi nagekom.

Louis Oosthuizen speel vandeesweek vir die eerste keer in 23 maande op die Europese vasteland. Foto: Getty Images

Dit is die begin van sy voorbereiding vir die Britse Ope, wat op 15 Julie by die Royal St. George’s-baan in Kent begin.

Die laaste keer wat Oosthuizen direk ná ’n tweede plek in ’n major-toernooi op ’n vliegtuig na ’n ander land geklim het, het hy ’n titel gewen.

Sewe dae nadat Bubba Watson hom in ’n uitspeelstryd in die Amerikaanse Meesters van 2012 geklop het, het Oosthuizen die Maleisiese Ope met drie houe gewen.

Meer oor:  Darren Fichardt  |  Gholf  |  Jc Ritchie  |  Louis Oosthuizen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.