Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Joburg Ope terug op SA gholfkalender

Ná ’n afwesigheid van 35 maande sal die Joburg Ope in November weer sy plek op die plaaslike gholfkalender inneem.

Dié blye tyding is Dinsdag op ’n mediakonferensie by die Randpark-gholfklub in Randburg bevestig. Soos in Desember 2017 sal die toernooi vanjaar weer daar plaasvind, vanaf 19 tot 22 November.

Die laaste wenner van die Joburg Ope, Shubankar Sharma, spog in Desember 2017 by die Randpark-gholfklub met sy trofee. Foto: Getty Images

Die toernooi het vir twee seisoene nie plaasgevind nie, nadat besluit is om dit saam te smelt met die Suid-Afrikaanse Ope.

Dié het in Januarie vanjaar plaasgevind, met die vergrote veld van 240 spelers en die status as Britse Ope-kwalifiseringstoernooi, wat die Joburg Ope gewoonlik gehad het.

Thomas Abt, die nuwe kommissaris van die Sonskynreeks, het Dinsdag bevestig dat die beheerliggaam nou weer die kapasiteit het om die toernooie apart aan te bied. Meer inligting sal later oor die SA Ope bekend gemaak word.

Die Joburg Ope, wat vanjaar met ’n “normale” veld van 156 beroepspelers uit die Sonskyn- en Europese reeks sal plaasvind, sal vir net die tweede keer by Randpark gehou word, nadat dit tussen 2007 en 2016 by die Royal Johannesburg & Kensington-baan was.

Dit sal, soos elke ander weergawe, deur die Johannesburg-metro geborg word.

Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg, sê die besluit om die Joburg Ope te laat herleef is reeds in Januarie geneem.

“In een van ons eerste gesprekke (nadat Makhubo verlede jaar as burgemeester verkies is) het hy vir my gevra: ‘Waar is my Joburg Ope?’,” het Selwyn Nathan, die vorige kommissaris en nou uitvoerende direkteur van die Sonskynreeks, Dinsdag gesê.

“Ons is baie bly die toernooi maak nou sy terugkeer, nadat dit ons gehelp het om ons nasionale kampioenskap te red,” het Nathan bygevoeg.

Die uitvoerende direkteur van die Sonskynreeks, Selwyn Nathan, aan die woord tydens die aankondiging Dinsdag van die Joburg Ope se terugkeer. Johannesburg se burgemeester, Geoff Makhubo, en die nuwe kommissaris van die Sonskynreeks, Thomas Abt, luister aandagtig. Foto: Melinda Stuurman

Die toernooi sal onder streng Covid-19-maatreëls plaasvind, met geen toeskouers nie en al die spelers, joggies en sleutelpersoneel vir die week van die toernooi in ’n bioborrel.

Interessant genoeg sal daar wel ’n Pro-Am-toernooi gehou word en ook ’n area vir BBP’s (Baie Belangrike Persone) in die Randpark-klubhuis wees, met die genooides wat nie in ’n bioborrel hoef te wees nie.

“Ons sal die spelers op die Maandag voor die toernooi (16 November) toets vir Covid-19 en as hul uitslae negatief is, sal hulle in een van ons uitgesoekte hotelle in die bioborrel wees,” het Abt gesê.

“Dit beteken hulle sal nie gou na Cresta toe kan gaan vir ’n hamburger nie – hulle sal al hul etes by die hotel geniet en van daar na die gholfbaan mag reis.

“Dis dieselfde maatreëls wat met groot sukses deur die Europese reeks gevolg word.”

Die Europese reeks se gereelde spelers is inderdaad nou al gewoond daaraan om van bioborrel na bioborrel te reis. Die Stellenbosser Garrick Higgo, wat in September sy eerste titel in Europa gewen het, het aan Netwerk24 gesê dis nie lekker om in ’n borrel te leef nie, maar dat die spelers vinnig gewoond geraak het daaraan om weekliks ’n toetsstokkie in die neus te kry.

Die Joburg Ope sal net vier dae ná die afsluiting van die Amerikaanse Meesterstoernooi begin, wat vrae laat ontstaan oor hoeveel sterre Randpark kan verwag.

Abt het gesê die Sonskynreeks het nietemin uitgereik na Suid-Afrikaanse gholf se groot kanonne – spelers soos Louis Oosthuizen, Branden Grace en Charl Schwartzel – in die hoop dat hulle die toernooi sal ondersteun.

Makhubo het ook aangekondig dat vanjaar se toernooi opgedra sal word aan die ANC-strydros Andrew Mlangeni, wat in Julie in die ouderdom van 95 dood is.

Mlangeni, die laaste van die Rivonia-beskuldigdes wat te sterwe gekom het, was volgens Makhubo ’n gereelde gesig in die Joburg Ope se BBP-area en het graag in die toernooi se Pro-Am-toernooie gespeel.

Meer oor:  Gholf  |  Joburg Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.