Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Sy betaal prys ná ma haar gholfbal skuif

’n Jong opkomende gholfster is uit die LPGA se kwalifiseringsreeks geskop nadat haar ma glo haar bal, wat buite perke te lande gekom het, terug in spel geskuif het.

Doris Chen se reputasie is ernstig geskaad. Foto: Getty Images

Stuff berig Doris Chen (25) het verder gespeel, al het haar joggie Alex Valer haar daarteen gewaarsku. Die Amerikaner dra nou die gevolge van die verneukery en is haar kans om in 2019 in die LPGA-reeks mee te ding, kwyt.

“Ek voel seergemaak. Mense noem my ’n verneuker, met die gebruik van opruiende woorde,” sê sy.

“Ek speel nooit met die doel om te verneuk nie en ek het nog nooit my vriende of familie gevra om my bal te skuif as ek dit buite perke gespeel het nie.”

Chen is ’n voormalige tienerster wat in 2010 die Amerikaanse junior titel vir meisies verower het en het in 2014 by die NCAA (Amerikaanse Universiteite-kampioenskap) vir vroue geseëvier.

Die voorval het op die 17de putjie by die Pinehurst No 7-gholfbaan gebeur toe Chen se bofhou tussen die bome ingeseil het.

Chen en Valer se weergawe van gebeure verskil, met die bal wat uiteindelik tussen die dennenaalde langs ’n boom gevind is.

“My ma sê sy het nie die bal geskuif nie,” sê Chen. “Sy weet nie wat gebeur het nie.”

Maar volgens die joggie het 'n vrou uit ’n nabye huis aangehardloop en aangevoer die bal is deur ’n toeskouer geskuif. Sy het die vinger na Chen se ma gewys.

“Sy het gesê, ‘Daardie persoon daar het die bal geskop’ en met haar vinger beduie,” sê Valer.

Die LPGA het ’n klag ondersoek dat Chen ’n bal gespeel het wat sy buite perke geslaan het nadat haar ma dit terug in die speelveld geskuif het.

Die beheerliggaam sê in ’n verklaring Chen is gestraf vir ’n oortreding van die reël 15-3b selfs nadat sy ingelig is “iemand van buite” het haar bal geskuif.

“Ons het die feite van die saak deeglik ondersoek (voor sowel as na die beslissing) en daar is geen dubbelsinnigheid aan die feite of die uitspraak nie,” het die LPGA se reëlskomitee aan The Golf Channel gesê.

“Die speler het die beslissing in hierdie geval aanvaar en enige verdere gesprek oor die saak sal tussen die LPGA en die speler geskied.”

Valer het Chen aangeraai om ’n beampte te raadpleeg toe haar bal ontdek is en haar gewaarsku sy kan gediskwalifiseer word indien die voorval nie behoorlik hanteer word nie.

Die beamptes het daarna met die huiseienaars gaan praat oor wat hulle gesien het.

– Sportredaksie

Meer oor:  Gholf  |  Doris Chen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.