Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Jong Jarvis maak gróót geskiedenis

Die 17-jarige Casey Jarvis sal Sondag ’n spesiale plek in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse amateurgholf inneem wanneer hy iets vermag wat net twee ander mans al ooit kon.

Casey Jarvis is net 17 jaar oud, maar het reeds elke groot amateur-titel in Suid-Afrikaanse gholf gewen. Foto: Sonskynreeks

Jarvis was Vrydag die enigste amateur wat die afsnypunt in die Suid-Afrikaanse Ope oorleef het, wat beteken dat die etsers reeds sy naam op die Freddie Tait-trofee vir voorste amateur kan begin graveer.

Die tiener, die land se nr. 1-amateur, het boonop vroeg vanjaar in agtereenvolgende weke sowel die Suid-Afrikaanse Houespel-titel as die Suid-Afrikaanse Amateurkampioenskap gewen. Hy is net die derde speler tot nog toe wat albei daardie titels én die Freddie Tait-trofee in ’n kalenderjaar wen – en die eerste in 32 jaar.

Die legendariese Bobby Locke was die eerste wat dit kon vermag, in 1935, toe die houespel-toernooi en die nasionale kampioenskap nog nie van mekaar geskei was nie. Hy het daardie jaar ook die SA Ope gewen, en die Freddie Tait-trofee dus outomaties ontvang.

In 1969 is die SA Houespel-toernooi en die nasionale amateurkampioenskap (wat 36 putjies van houespel en sewe putjiespel-rondes insluit) van mekaar geskei. Negentien jaar later het Neville Clarke albei dié toernooie én die SA Ope se amateurprys gewen.

Jarvis was Vrydag in die wolke om te hoor van sy sonderlinge driekuns, wat hy verseël het deur die afsnypunt by Sun City op die nommer te maak.

“Ek kan dit nie glo nie – dis enorm,” het die jongeling volgens ’n verklaring gesê. “Dit sal seker eers Sondag insink. Vir nou kan ek net dink aan hoe verlig ek is dat die (tweede) ronde verby is en ek die wa deur die drif kon trek.”

Jarvis saam met sy pa, Kevin, wat vandeesweek by Sun City sy sak dra. Foto: Sonskynreeks

Jarvis het in die eerste twee rondes van die SA Ope saam met die Alfred Dunhill-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, en Oostenryk se Matthias Schwab gespeel, en van naby gesien hoe albei die voëltjies inryg.

Die land se voorste amateur speel tradisioneel in die eerste twee rondes van die SA Ope saam met die verdedigende kampioen. Branden Grace, wat die ope in Januarie gewen het, kon egter nie sy titel kom verdedig nie.

Jarvis was aanvanklik teleurgesteld daaroor, maar het Donderdag gesê dit was op ’n manier dalk goed.

“Ek het so lekker saam met (Bezuidenhout en Schwab) gespeel en baie geleer. Ek dink dit sou baie meer senutergend gewees het om saam met Grace te speel,” het hy erken.

Die jongeling se sak word vandeesweek gedra deur sy pa, Kevin, wat die State Mines-gholfklub in Brakpan se gholfdirekteur is.

Kevin het Vrydag aan Lali Stander gesê hy het sy seun laat in die tweede ronde – toe hy onder groot druk was om die afsnypunt te haal – self laat besluit hoe om te speel.

Die tiener het gehoop vir ’n voëltjie by die 18de om alle twyfel oor sy naweekplanne uit die weg te ruim, maar moes met syfer tevrede wees nadat hy die bal tot in die lang gras regs van die skoonveld geslaan het.

“Hy neem die besluite, hy vat die blaam. Dis alles deel van die leerproses,” het Jarvis sr. gesê.

• Met die Freddie Tait-trofee in die sakkie het Jarvis Saterdag sy beste ronde van die week gehad: ’n 71 (-1), wat ’n arend by die eerste ingesluit het en hom tot 218 (2-oor) geneem het.

Meer oor:  Sun City  |  Sa Ope  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.