Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Jong Wilco toon sy staal in Engeland

Dit was sonder twyfel Sondag die Engelsman Andy Sullivan se dag by die Engelse kampioenskap – maar ook ’n dag wat die Suid-Afrikaner Wilco Nienaber nie gou sal vergeet nie.

Wilco Nienaber kyk die bal Sondag agterna van die Hanbury Manor-gholfbaan se 12de bof af. Foto: Getty Images

Sullivan, ’n voormalige Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, het die Europese reeks se Engelse kampioenskap op ’n drafstap gewen, nadat hy die hele naweek lank nie ’n voet verkeerd gesit het nie. Danksy naweek-rondes van 64 (-7) en 65 (-6) het hy op 257 (-27) geëindig.

Die Spanjaard Adrian Oteagui (66 Sondag) het ’n yslike sewe houe agter hom in die tweede plek geëindig.

Dit was ’n uitstekende naweek vir Suid-Afrika. Die 20-jarige Nienaber (66) het op 18-onder vierde geëindig, terwyl Brandon Stone (70) en Dean Burmester (70) op 16-onder in die gesamentlike sesde plek was.

Twee brouhoue oor die laaste ses putjies sou ’n wrang smaak in Burmester se mond gelaat het, en Stone sal straks wonder wat kon gewees het as hy meer as twee voëltjies op sy telkaart kon invul.

Maar vir ’n top10-uitslag sal nie een van die twee nee dankie sê nie.

So ook Nienaber, wat eers Woensdag gehoor het hy moet by die Hanbury Manor-baan in Hertfordshire aanmeld omdat ’n ander speler sy reg om te speel verbeur het deur die bio-borrel te verlaat.

Vir Nienaber was dit ’n geleentheid wat hy eenvoudig nie deur sy vingers kon laat glip nie. Hy het die laaste paar weke skerp gebly deur op mini-reekse in Engeland te speel, en twee seges daar behaal. Die skitterende spelpeil waarmee hy dit vermag het, is saam na Hanbury Manor, en het nou nog ’n deur laat oopgaan.

Nienaber het nie volle spelersregte in die Europese reeks nie, maar is outomaties ingeskryf vir die komende week se Celtic Classic-toernooi in Wallis, omdat hy in die top-10 geëindig het.

Dit lyk of ek op pad Wallis toe is, wat nog ’n groot geleentheid vir my is
Wilco Nienaber

Ook Nienaber sou met ’n breër glimlag van die baan gestap het as hy nie ’n laat lyfhou gekry het nie. Sy enigste brouhou van die dag was by die heel laaste putjie, en het hom ’n aandeel aan die derde plek gekos.

Maar hy het darem ook nie gesukkel om al die positiewes van die week te sien nie.

“Wel, ná ’n dag soos vandag . . . ja, ek is ’n bietjie teleurgesteld, want ’n brouhou is nooit lekker nie en veral by die 18de, wat nie so ’n moeilike putjie is nie. Maar ek is ook tevrede met hoe alles afgeloop het. Dit lyk of ek op pad Wallis toe is, wat nog ’n groot geleentheid vir my is,” het Nienaber in ’n televisie-onderhoud gesê.

Andy Sullivan pronk met sy trofee. Foto: AP

 Die 34-jarige Sullivan was emosioneel ná sy oorwinning, wat ’n wendroogte van byna vyf jaar beëindig het.

Die Engelsman is geen vreemdeling vir Suid-Afrikaners nie, met sy eerste twee Europese seges wat albei vroeg in 2015 in Johannesburg was: eers die Suid-Afrikaanse Ope in Januarie en twee maande later die Joburg Ope.

Daardie Oktober het hy ook die Portugese meesterstoernooi gewen, maar daarna kon hy nie weer die wenkamp betree nie.

Dít het hy Sondag verander met veral uitmuntende setwerk. Sullivan het die voorsprong van vyf houe waarmee hy sy ronde begin het, in ’n stadium tot drie sien krimp, maar toe voet op die petrol gesit en met vier voëltjies oor die laaste nege putjies hope afstand tussen hom en die res geplaas.

Meer oor:  Dean Burmester  |  Brandon Stone  |  Gholf  |  Wilco Nienaber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.