Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Jonk, maar vol pronk op die gholfbaan
Die 17-jarige Christo Lamprecht het die jongste wenner ooit van die East of Ireland-amateurkampioenskap geword. (Foto: Gallo Images)

Vroeg in Junie, terwyl die winter sy kloue in Suid-Afrika begin inslaan het, is ’n handvol van die land se voorste jong gholfspelers uit die nes geskop en noorde toe gestuur.

Dit was tyd vir dié jong mans – ’n groep wat al “ses of sewe jaar terug” geoormerk is as moontlike sterre van die toekoms – om hul vlerke op die linksbane van die Verenigde Koninkryk te gaan strek. Dit het hulle gedoen, en toe gevlieg. Hóóg gevlieg.

Op die eerste Sondag van die maand het die 17-jarige Christo Lamprecht die jongste wenner ooit van die East of Ireland-amateurkampioenskap geword. Die vorige dag is sy GolfRSA-spanmaat Wilco Nienaber (18) in ’n uitspeelstryd van ’n sege in die Engelse Amateur-houespeltoernooi weerhou.

Jovan Rebula

Drie weke daarna het Nienaber die houespel-afdeling van die Britse Amateurkampioenskap gewen, terwyl vyf van die ses Suid-Afrikaners in die toernooi vir die putjiespel-kompetisie gekwalifiseer het. ’n Paar dae later was Jovan Rebula (20) die Laaste Man Staande as algehele kampioen.

Elders was ’n jonger groep spelers besig om die SA vlag hoog te hou in Japan, waar hulle vyfde in die Junior Wêreldbeker geëindig het. En een van hulle, Martin Vorster (16), het net weke later ook opgeruk na die Verenigde Koninkryk om die Junior Britse Ope te gaan wen.

In die gholfwêreld boks Suid-Afrika al vir jare ver bo sy gewigklas – en uit die merkwaardige vertonings wat die land se jonges in die Britse somer gelewer het, is dit duidelik dat meer van dieselfde wag.

Maar, sê Grant Hepburn, die uitvoerende hoof van GolfRSA (die beheerliggaam van amateurgholf in Suid-Afrika), die rits hoogtepunte waaroor die tonge nou so klap, is net die oortjies van die seekoei. Die voerband wat die volgende Ernie Els, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel moet lewer, is propvol.

“Ons het al ses of sewe jaar gelede voorspel dat die jong spelers wat nou so goed in Brittanje gevaar het ’n blink toekoms het, dat een of meer van hulle die volgende Louis Oosthuizen of Charl Schwartzel kan word. Ons was net nie toe seker of ons hul ware potensiaal kon ontgin nie, so ons moes ’n paar inisiatiewe in gereedheid bring om dit te verseker,” sê Hepburn.

“Ons belowendste spelers word nou opgeneem in nasionale groepe, vir mans en vir vroue, en ons staan hulle by met alles wat hulle nodig het.
Grant Hepburn

“Ons belowendste spelers word nou opgeneem in nasionale groepe, vir mans en vir vroue, en ons staan hulle by met alles wat hulle nodig het. Die spelers het hul eie afrigters, maar ons doen wat ons kan om te verseker die afrigters haal die beste uit die spelers en van ons kant af help ons met ander dinge soos hul fiksheid en sportsielkundiges.

“Ons is ook baie dank verskuldig aan Johann Rupert. Sy vrygewigheid die laaste drie jaar maak dat ons die spelers nou meer na internasionale toernooie stuur, as ’n groep wat mekaar kan aanspoor en saam kan besef tot watter hoogtes hulle in staat is. Ons het ook ’n ferm besluit geneem om nie ons rug te keer op spelers wat soos Jovan in die VSA gaan studeer nie, en kyk net hoe ryklik is daardie besluit beloon.”

Rupert is al vir jare ’n hoofrolspeler in Suid-Afrikaanse gholf, en hou sedert 1999 die tjekboek waarmee die land se ontwikkelingstrukture gefinansier word.

“Ons het ’n paar jaar gelede met hom gesels en gesê ons dink ons junior gholf sal werklik floreer as ons ’n nasionale struktuur kan opstel waarbinne ons spelers in groepe saamsnoer, en hy was dadelik aan boord met die plan,” sê Hepburn. “Die lekkerte is dat ons die laaste weke briewe van die R&A (internasionale gholf se moederliggaam), van die Royal Aberdeen-gholfklub, selfs van die hotelle waar ons spelers gebly het, gekry het om vir ons te sê hoe goedgemanierd ons spelers was en watter plesier dit was om met hulle te doen te kry. Dit maak ons verskriklik trots om dit te hoor, en dis heerlik om vir mnr. Rupert daardie briewe te wys en te sê, dis die soort mense wat jy help kweek.”

Grant Hepburn

Vir Hepburn en sy kollegas by GolfRSA is die karakter van die jongelinge in hul struktuur baie belangrik.

“Ons hoofkriteria met die saamstel van ons nasionale groepe is dat spelers moet inkoop in ons kultuur van respek en goedgemanierdheid. Jy kan nie ’n toksiese persoon in so ’n omgewing bekostig nie, want so iemand trek dalk almal anders saam met hom af. Almal neem dit baie ernstig op, aan die mans- en vrouekant, en dit dra baie by tot ons sukses,” sê Hepburn.

Nog bestanddele in hul wenresep is die krag van die strukture waardeur jong kinders kom, en die gehalte van die land se nasionale amateurtoernooie.

“Ons is juis nou in gesprekke met die mense van die amateur-wêreldranglys. Ons spelers het nie wonderlike ranglysposisies nie, maar wanneer hulle teen spelers hoog op die lys speel, kraai hulle koning. Duidelik is die Suid-Afrikaanse spelers baie beter as wat hul ranglysposisies weerspieël.

“Hopelik sal ons binnekort meer ranglyspunte in ons toernooie op die spel hê, want dit is mededingend en die spelers wat daaraan deelneem, speel gholf van ware gehalte. Ons kry elke jaar spelers van 14 of 15 lande wat hier by ons kom speel omdat hulle weet die kompetisie hier is baie sterk, so dit sal gaaf wees as dit ook in ranglyspunte weerspieël kan word,” sê Hepburn.

Terwyl die grootste suksesse tans aan die kant van die seuns gesien word, sê Hepburn GolfRSA is besig met inisiatiewe om die meisies in die spel ook op te hef.

Ons sien ongelukkig in die stadium hoe die dogters wat deelneem op ’n sekere ouderdom – min of meer wanneer hulle hoërskool toe gaan – verminder, en ons moet ’n teenvoeter daarvoor kry. Dis hoog op ons prioriteitslys
Grant Hepburn

“Ons sien ongelukkig in die stadium hoe die dogters wat deelneem op ’n sekere ouderdom – min of meer wanneer hulle hoërskool toe gaan – verminder, en ons moet ’n teenvoeter daarvoor kry. Dis hoog op ons prioriteitslys,” sê hy.

Die GolfRSA-grootbaas sê die organisasie is vol selfvertroue dat hul voerband nog baie jare baie sterre van die toekoms sal deurdra. “Ons langtermynvisie is om die groepstruktuur sterk en suksesvol te hou,” sê hy.

“Soos ons ’n klompie jare gelede opgewonde geraak het oor die huidige groep jong sterre, is daar nou ook kinders oor wie ons dieselfde sê. Die Suid-Afrikaanse vlag kan nog vir baie jare baie trots in wêreldgholf wapper.”

Meer oor:  Jovan Rebula  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Talent  |  Golf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.