Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Justin Rose verloor, maar nuwe nr. 1
Die nuwe nr. 1 in wêreldgholf, die Engelsman Justin Rose, het Maandag in die BMW-kampioenskap teen Keegan Bradley in ’n uitspeelstryd verloor. Foto: Getty Images

Die Amerikaner Keegan Bradley het Maandag ’n wendroogte van ses jaar in die PGA-gholfreeks beëindig toe hy Justin Rose van Engeland in ’n uitspeelstryd in die BMW-kampioenskap geklop het.

Rose se troos was dat hy as die nuwe nr. 1 in wêreldgholf van ’n sopnat Aronimink-baan in Pennsilvanië gestap het.

Bradley het die eerste uitspeelputjie gelyk aan syfer afgesluit nadat albei spelers die toernooi op 20 houe beter as baansyfer vir ’n toernooitelling van 260 voltooi het.

Keegan Bradley het ná ses lang jare weer sy hande op silwerware gekry. Foto: AP

Rose, wat die hele toernooi nie ’n enkele sethou van binne vyf voet gemis het nie, het ’n viervoet-set verby die blikkie geslaan.

Dit het hom nie verhoed om die 22ste speler in meer as 30 jaar te word wat sy naam boaan die wêreldranglys vestig nie.

“Ek kan dit nie glo nie. Hierdie is so ongelooflik,” het ’n emosionele Bradley gesê oomblikke nadat hy die toernooi gewen het.

“Ek moes hard werk en daar was baie mense wat my gehelp het.”

Die 32-jarige Bradley het in 2011 op die toneel verskyn toe hy die PGA-kampioenskap gewen het.

Hy het sedert 2012 nog nie weer ’n toernooi in die PGA-reeks verower nie.

Dit het op die 18de putjie gelyk asof ’n brouhou hom van sy wenkans gaan ontneem, maar sy 64 in die vierde ronde was genoeg om Rose, wat ná ’n vrotsige naderhou ook op dié putjie ’n hou aan syfer afgestaan het, om die titel te takel.

Rose sal sy twee sethoue in die uitspeelstryd so gou moontlik wil vergeet, terwyl Bradley koelkop gebly het.

* Tony Finau is intussen as die 12de lid van die Amerikaanse Ryderbekerspan aangewys.

Tony Finau se bestendige spel in groot toernooie vanjaar het die weg gebaan vir sy insluiting in Amerika se Ryderbeker-span. Foto: AP

Jim Furyk, die Yanks se kaptein, sê dit was ’n maklike keuse om Finau in sy span in te sluit vir die toernooi, wat van 28 tot 30 September teen Europa in Parys beslis word.

Hoewel dié 28-jarige nie vanjaar ’n toernooi in die PGA-reeks kon wen nie, spog hy met drie toptienplekke in die majors.

Finau het ook goed vertoon in die FedExCup-uitspeelreeks.

“Hy het ’n ongelooflike seisoen, veral sy vertonings in die majors het my beïndruk. Tony het dit eintlik vir my onmoontlik gemaak om hom nie te kies nie,” sê Furyk.

Finau sê hy het hoendervel gekry toe Furyk hom laat weet het hy het die span gehaal. “Dit is ’n droom wat waar word en ek is opgewonde om ’n bydrae te kan maak.

“Hopelik kan ek die span iets bied en sal ons daardie beker terugbring.”

– Reuters

Meer oor:  Gholf  |  Pga  |  Justin Rose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.