Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Kaylah wen op Clovelly ná verbluffende 31

Die Durbanville-gholfspeler Kaylah Williams het haar verkorte 2020-seisoen op ’n hoogtepunt afgesluit met ’n manjifieke vertoning om die Ackerman-kampioenskapsbyeenkoms die naweek op Clovelly in die Wes-Kaap te wen.

Die 18-jarige Kaylah Williams.Foto: Gallo Images

Die 18-jarige speler het ’n verbluffende 31 houe oor die laaste nege putjies van die toernooi oor drie rondes gespeel om met sewe houe voor haar naaste teenstander, Ekurhuleni se Nadia van der Westhuizen, te eindig.

Haar telling van 210 was ses beter as baansyfer, maar dis die 31 teen die einde wat toeskouers aan die gons gehad het.

Sy het ’n arend en vier voëltjies op ’n streep op haar telkaart ingevul om haar naaste uitdagers in die stof te laat byt.

Williams, lid van GolfRSA se elite groep, was in Mei verlede jaar laas in die Gauteng Ope in die wenkampie.

“Dis ’n fantastiese gevoel om weer ’n trofee te kon lig,” het die 18-jarige gr. 12-leerling aan die Hoërskool Fairmont agterna gesê.

“Met die matriekeindeksamen om die draai het ek druk op myself geplaas om in my laaste toernooi goed te vaar. Ek is trots dat ek dit kon vermag.”

Dit was nie die eerste keer dat sy die gesogte Gus Ackerman-trofee vashou nie. Sy was maar 14 toe sy dit die eerste keer vermag het.

Sy is in uitgelese geselskap met onder meer Wendy Warrington en Gilly Tebbutt (albei ingelyf in die SA gholf-heldesaal), die Europese reeks-kampioen Ashleigh Buhai en die Sonskynreeks-kampioene Bertine Strauss, Nobuhle Dlamini en Carrie Park wat voor haar die sukses kon smaak.

Williams was nr. 2 op die amateur-ranglys vir vroue in Suid-Afrika toe sy in 2019 haar stokke moes bêre om ’n knie-operasie te ondergaan.

Sy was daarna net mooi goed op dreef toe die koronavirus-pandemie ’n stokkie voor sport gesteek het.

Ek het vir my pa gesê ons kort ’n paar voëltjies. Toe rol ek hulle van 13 tot 16 in.

Oor haar laaste nege putjies, wat die sege op Clovelly verseël het, sê sy die teenwoordigheid van haar pa as joggie, het baie gehelp.

“Elke keer as ek voel my senuwees begin knaag, het ons oor ditjies en datjies gesels. Dit het my baie gekalmeer en gehelp om te fokus.”

Die arend op die 10de putjie het die weg gebaan vir die oorwinning.

“Ek en my pa het langs die setperk gestaan. Ek was so positief ek het vir hom gesê ek gaan nie eens set nie, ek gaan my wigyster gebruik. En toe kap ek die bal tot in die blikkie.”

’n Brouhou op die 12de het haar gedwing om haar fokus te verskerp.

“Ek het vir my pa gesê ons kort ’n paar voëltjies. Toe rol ek hulle van 13 tot 16 in.”

Van der Westhuizen se brouhoue op 15 en 16 het bo alle twyfel verseker die Durbanville-tiener dra die kroon.

“Dit was fantasties om weer op die baan te wees en my vriende te sien – die eerste keer sedert Maart vanjaar. Dis eintlik wat ek vir 2020 in gedagte gehad het, dié soort samesyn,” het die kampioen bygevoeg.

Meer oor:  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.