Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Keenan op sy stukke in Joburg Ope

Keenan Davidse het voor die aanvang van die Joburg Ope erken hy was senuweeagtig. Ná ’n sewende plek in die vorige uitgawe van dié toernooi, in Februarie by die Royal Johannesburg & Kensington-gholfklub, het hy die druk gevoel om wéér sulke heldedade te lewer.

Keenan Davidse. Foto: Gallo Images

Maar van senuwees was daar geen sprake nie toe Davidse Donderdagoggend die Bushwillow-baan van die Randpark-gholfklub gepak het nie. Die 28-jarige Stellenbosser het die eerste dag van die Joburg Ope as die voorloper afgesluit, ná ’n uitmuntende ronde van 63 (agt houe minder as baansyfer) wat nege voëltjies aangeteken het.

“Ek sal nie sê dis vir my ’n skok nie, want ek het hard gewerk. Party mense sê dié baan is makliker as Firethorn (die ander Randpark-baan waarop die Joburg Ope vandeesweek beslis word), en ná ’n 63 kan ek nie daarmee stry nie, maar jy moet nog steeds goeie houe slaan om hier reg te kom,” het Davidse gesê.

Ná ’n paar dae van reën op die Hoëveld was die twee Randburgse bane waarop die toernooi plaasvind Donderdag sag en die setperke ontvanklik.

“Die Firethorn-baan (waarop hy vandag sal speel) is ook maar net nog ’n baan, en my gevoel is: as jy die baan speel, sal dit met jou goed gaan, maar as dit vir jou oor die toernooi gaan, is dit ’n ander storie. Dít het ek al baie ervaar.”

Oor sy wonderlike telling het Davidse gesê: “Ek is nie hier om prentjies te teken nie, maar om syfers neer te skryf. Vandag het ek goeie syfers gekry, maar nou moet ek my voete op die grond hou.”

Davidse is ’n lid van die Gary Player-klub van 2017, ’n ontwikkelingsinisiatief van die Sonskynreeks, en het vanjaar aansienlik beter gevaar as enige ander lede van dié klub. Hy bevind hom tans in die 22ste plek op die Sonskynreeks se geldlys, met vier top5-uitslae tot dusver dié seisoen.

Davidse het die dag afgesluit met ’n voorsprong van een hou oor ses spelers, wat die Suid-Afrikaners Jared Harvey, Erik van Rooyen en Ockie Strydom insluit. Soos hy het almal van hulle by Bushwillow gespeel.

Die beste telling by Fire­thorn was 66 (-6). Vyf spelers, onder wie Oliver Bekker en Dean Burmester, het dít vermag.

Die Mauritius Ope-kampioen Dylan Frittelli se dag by Bushwillow het nie soveel vuurwerk opgelewer soos hy vooraf sou gehoop het nie.

Frittelli het ’n 70 (-1) op sy telkaart ingevul vir ’n aandeel aan die 84ste plek.

Meer oor:  Joburg Ope  |  Randburg  |  Keenan Davidse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.