Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Kersie op verjaardagkoek wink vir Ritchie

Die Standerton-boorling J.C. Ritchie kan die naweek vir homself ’n baie groot verjaardaggeskenk losspeel in die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap buite Kempton Park.

J.C. Ritchie is die voorloper op die Sonskynreeks se geldlys op die vooraand van die seisoen se laaste toernooi. Foto: Gallo Images

Ritchie, wat Maandag sy 26ste verjaardag vier, gaan dié toernooi (die laaste van die Sonskynreeks se huidige seisoen) as die voorloper op die geldlys binne.

In 18 Sonskynreeks-toernooie dié seisoen het Ritchie altesaam R2,146 miljoen verdien – ’n raps minder as R135 000 meer as die R2,01 miljoen waarmee die tweede geplaaste Danie van Tonder se bankrekening gestu is.

Van Tonder kan wel steeds die geldkroon wegraap voor Ritchie se neus, mits hy Sondag by die Serengeti-gholfbaan oos van Johannesburg in die top-2 eindig en Ritchie ’n teleurstellende week het.

As Van Tonder die Toerkampioenskap wen, moet Ritchie derde eindig om die geldtitel te wen. Sou Van Tonder tweede eindig, moet hy hoop Ritchie eindig tiende of swakker.

Ritchie het die afgelope seisoen twee keer gewen en nog vier top-5-uitslae behaal. Die laaste daarvan was Sondag by die Dimension Data-Pro-Am-toernooi, waarin hy vyfde was.

Danie van Tonder het reeds twee keer tweede op die Sonskynreeks se geldlys geëindig. Foto: Gallo Images

Daar is vyf Sonskyntoer-titels agter sy naam. Hy sal vir die derde opeenvolgende jaar in die top-10 op die geldlys eindig, ná ’n negende plek verlede jaar en derde plek die jaar tevore.

Van Tonder (28), ’n driemalige Sonskynreeks-wenner, het verlede jaar en in 2014 tweede op die geldlys geëindig en sal vanselfsprekend sy oogtande gee om uiteindelik vanjaar die kruin te bereik.

Benewens die prestige daarvan, swaai die geldtitel ook die deur oop na die Britse Ope, die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City en die Alfred Dunhill-linkstoernooi in Skotland.

Ritchie en Van Tonder is die enigste spelers wat as vanjaar se geldwenner gekroon kan word, aangesien Jaco Ahlers (derde op die lys met R1,9 miljoen) vandeesweek in die laaste ronde van die Asiese reeks se kwalifiseringstoernooi speel.

Die ander twee spelers in die top-5, George Coetzee (R1,685 miljoen) en Thriston Lawrence (R1,264 miljoen), is te ver agter Ritchie om groot te droom.

Christiaan Bezuidenhout, wie se sege in die Dimension Data Pro-Am-toernooi Sondag hom tot sesde op die geldlys laat klim het, is nie by Serengeti nie aangesien hy vandeesweek in die Mexiko-kampioenskap, ’n toernooi in die geldryke WGC-reeks, speel.

Meer oor:  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.