Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Koepka: ‘Dis makliker om majors te wen’

In die geskiedenis van gholf se majors kon net drie mans meer as tien daarvan wen.

Brooks Koepka sê hy sien geen rede waarom hy nie ook lid van daardie eksklusiewe klub kan word nie.

Brooks Koepka verlede naweek in die Byron Nelson-toernooi, waarin hy vierde geëindig het. Foto: USA Today Sports

Koepka slaan Donderdag by die Bethpage Black-gholfbaan in New York af as die verdedigende kampioen in die Amerikaanse PGA-kampioenskap – en as ’n man met groot drome.

Die 29-jarige Amerikaner het drie van die laaste agt majors gewen en tweede geëindig in verlede maand se Amerikaanse Meesterstoernooi. Met top-25-uitslae in 12 van die laaste 13 majors, is hy ’n man wat jou ’n ding of twee kan vertel oor hoe om die druk van gholf se grootste verhoog te hanteer. En toe hy Dinsdag by Bethpage daaroor gevra is, het hy inderdaad nie gehuiwer om sy gedagtes te deel nie.

Ek dink soms die majors is die maklikste toernooie om te wen.

“Daar is 156 spelers by ’n major en ek kyk altyd daarna dat daar minstens 80 van hulle is wat ek sal klop,” het ’n selfversekerde Koepka volgens The Golf Channel gesê. “Van (die res, diegene wat die afsnypunt oorleef) sal omtrent die helfte (oor die naweek) nie so goed speel nie, so dit bring jou by 35 spelers. En in daardie 35 is daar ’n klompie wat gaan vou onder die druk. Dit laat jou met net ’n paar ander en dís die ouens wat jy moet verslaan.

“Ek dink soms die majors is die maklikste toernooie om te wen.”

Laasgenoemde uitspraak word deur Koepka se loopbaan-statistieke onderskryf.

Met drie majors het hy meer grotes agter sy naam as legendes soos Greg Norman, Bernhard Langer en Fred Couples. Net twee van sy beroepseges was egter buite die majors.

Vir die laaste twee jaar laat hy major-gholf maklik lyk, sodat dit geen wonder is nie dat hy grootmond is oor sy ideale.

“Ek sien geen rede waarom ek nie by dubbelsyfers kan uitkom nie,” sê Koepka. “Een van die groot dinge wat ek die laaste paar jaar geleer het, is jy hoef nie te probeer wen nie. Bly net binne trefafstand. As jy rondhang (en in die wedloop bly), gaan goeie dinge met jou gebeur.”

Wel, ek het die trofee. Die laaste keer wat ons hierdie toernooi gespeel het, het ek gewen.

Daar is natuurlik een aspek van die Koepka-resep wat hy nie in sy perskonferensie uitgestippel het nie: dat hy nie een van die 80 moet wees wat onder die valbyl beland, of een van die 35 wat oor die naweek kleitrap of een van die “klompie” wat onder die druk vou nie.

Gemeet aan huidige peil sal Koepka vertrou dat nie een van daardie dinge met hom sal gebeur nie. Die vierde plek wat hy die afgelope naweek in die Byron Nelson-toernooi behaal het, was net wat hy nodig gehad het voor die PGA-kampioenskap, het hy Sondag gesê.

Oor sy ambisies vir vandeesweek se major het Koepka geen doekies omgedraai nie.

“Wel, ek het die trofee. Die laaste keer wat ons hierdie toernooi gespeel het, het ek gewen. Ek dink ek het ’n goeie wenkans hierdie week – ek dink ek speel goed. As ek doen wat ek veronderstel is om te doen, sal ek moeilik geklop word,” het hy gesê.

* Die drie spelers met tien majors of meer is Jack Nicklaus (18), Tiger Woods (15) en Walter Hagen (11).

TV-tyd: Donderdag: 14:15 (SA tyd) op SS 1 en van 19:00 op SS 2 en GDN.

Uitgesoekte afslaantye (SA tyd):

13:18: Richard Sterne (SA), Henrik Stenson (Swe), David Lipsky (VSA)

13:29: Justin Harding (SA). Mike Lorenzo-Vera (Fra), Richy Werenski (VSA)

13:29: Erik van Rooyen (SA), Shane Lowry (Ier), Tommy Fleetwood (Eng)

13:51: Louis Oosthuizen (SA), Charley Hoffman (VSA), Patrick Reed (VSA)

14:13: Shaun Norris (SA), Lee Westwood (Eng), Charles Howell III (VSA)

14:24: Brooks Koepka (VSA), Tiger Woods (VSA), Francesco Molinari (Ita)

18:32: Branden Grace (SA), Eddie Pepperell (Eng), Ryan Palmer (VSA)

19:16: Jon Rahm (Spa), Dustin Johnson (VSA), Jordan Spieth (VSA)

19:38: Phil Mickelson (VSA), Rory McIlroy (N-Ier), Jason Day (Aus)

19:49: Brandon Stone (SA), Kevin Tway (VSA), Bronson Burgoon (VSA)

20:22: Dylan Frittelli (SA), Andrew Filbert (VSA), Kurt Kitayama (VSA)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.