Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Downsindroom hou Amy nie terug

Amy Bockerstette, ’n Amerikaanse gholfspeler wat ly aan Downsindroom, het vandeesweek die toeskouers op die TPC Scottsdale-baan in Phoenix, Arizona op hul voete gehad.

Die syfer-3-16de putjie in die Phoenix-ope is een van die beroemdstes in gholf.

Golf Channel berig Dinsdae in die toernooi staan bekend as “Dream Day”, wanneer lede van Special Olympics Arizona die geleentheid kry om PGA-beroepspelers te ontmoet.

Die VSA se Gary Woodland, die verdedigende kampioen, en sy landgenoot Matt Kuchar het Bockerstette (20) in hul oefenronde genooi om hulle op die 16de te vergesel.

Amy is mal oor gholf en het ’n paar jaar gelede die eerste speler met Downsindroom geword wat vir die deelstaat se hoërskool-kampioenskappe gekwalifiseer het.

Sy het verlede jaar nog geskiedenis gemaak deur ’n gholfbeurs by die Paradise Valley-gemeenskapskollege in Phoenix te ontvang.

’n Paar duisend toeskouers het Amy toegejuig toe sy aantree vir haar bofhou op die 16de, ’n putjie van 143 m. Sy het die bal goed getref, maar in die sandkuil langs die setperk beland.

Die bloutjie het Amy min gepla. Sy het haar bal met selfvertroue betree, Woodland en haar pa se advies van die hand gewys, en hardop gesê: “Ek kan dit doen.” En hóé.

Amy se tweede hou het 10 voet van die putjie beland, waarna sy haar sethou koel en kalm suksesvol vir syfer voltooi het.

“Dit is beslis die koelste ding wat ek nog gesien het. Ek het vir haar gesê sy moet my ’n paar lesse kom gee,” sê Woodland.

“Daardie eerste hou, ek het net gehoop sy kry die bal van die bof af. Ek het gedink sy sou ’n bietjie senuagtig wees met ’n paar duisend mense wat haar dophou.

“Toe sy in die sandkuil beland, het ek haar gevra of ek die bal moet uithaal, want ek het nie geweet of sy wou ingaan nie.

“Sy het gesê: ‘Nee, ek kan dit doen’ en sy was reg, sy hét dit gedoen. Dit was asemrowend om te aanskou.

“En toe die sethou, ek bedoel ek het nog nooit so hard gewens dat ’n bal in die putjie rol nie.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Matt Kuchar  |  Gholf  |  Downsindroom  |  Pga  |  Gary Woodland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.