Die Amerikaanse gholfspeler Justin Thomas dryf die spot met sy omstrede landgenoot Patrick Reed wat hom verlede week in die Bahamas vir die hoeveelste keer in sy loopbaan aan skelmstreke skuldig gemaak het.

Justin Thomas (regs) en Patrick Reed oefen vandeesweek saam vir die Presidentebeker-toernooi wat Donderdag begin. Foto: Getty Images
Thomas, ’n voormalige wêreld-nommereen, na-aap sy Presidentebeker-spanmaat se blatante oortreding in ’n video op sosiale media terwyl hy oefen vir vandeesweek se kragmeting teen Ernie Els se Internasionale span.
Reed het Vrydag by die 11de putjie tydens die derde ronde van die Hero World Challenge-toernooi besluit die presiese plek waar sy bal in die sandkuil geland het, is te moeilik om net so uit te speel.
Terwyl hy gemaak het of hy sy swaai oefen en kwansuis uitwerk presies hoe hy die bal daar gaan uitkry, het hy die sand stukkie vir stukkie met twee “houe” weggevat.
Toe beamptes hom daarop gewys het, het hy heel verbaas gereageer en gemaak of hy van geen sout of water bewus is nie.
In ’n video op Twitter doen Thomas presies dieselfde in ’n sandkuil in ’n oefenronde by Royal Melbourne, waar die Presidentebeker-toernooi Donderdag begin.
“P Reed,” roep Thomas aan sy oefenmaat terwyl daar gehoor kan word hoe omstanders lag. “Is hierdie korrek?”
Beamptes het Reed met twee houe beboet omdat hy die sand weggeslaan het en die voormalige Meesters-kampioen verduur hope kritiek weens die voorval.
Die Aussie-gholfspeler Cameron Smith sê Reed het “verneuk” en sommige van sy internasionale spanmaats meen die Amerikaner moet uitgesonder word deur toeskouers by Royal Melbourne.
Reed het Dinsdag by ’n nuuskonferensie teruggekap. Volgens hom is “verneuk” nie akkuraat nie omdat hy nie die sand sien beweeg het nie en beamptes het saamgestem dat hy onopsetlik die posisie van sy bal verbeter het.
Die VSA, wat deur Tiger Woods aangevoer word, ding mee om ’n agste agtereenvolgende titel teen die Internasionale span.
– Reuters, Sportredaksie