Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Larrazábal soos Lasarus by Leopard Creek
Pablo Larrazábal, wie se voete oortrek is met blase, saam sy wennerstrofee nadat hy ’n merkwaardige oorwinning in die Alfred Dunhill-toernooi behaal het. Foto: Getty Images

Al was sy voete oortrek met blase dat hy skaars kon loop, wou die Spanjaard Pablo Larrazábal Sondag net nie die aftog blaas in die Alfred Dunhill-gholftoernooi by Leopard Creek neffens die Krugerwildtuin nie.

’n Voëltjie op die 18de putjie het aan Larrazábal ’n merkwaardige sege met een hou besorg oor die Sweed Joel Sjöheim.

Larrazábal het op agt onder syfer klaargemaak en Sjöholm op sewe onder.

Die Suid-Afrikaners Charl Schwartzel, ’n viermalige wenner van hierdie toernooi, asook Branden Grace en die Nederlander Wil Besseling, was saam derde op ses sonder.

Larrazábal het die eerste speler in die geskiedenis van die Europese reeks geword wat ’n toernooi wen nadat hy agt houe op die laaste dag afgestaan het.

Dié Spanjaard het die laaste dag afgeslaan op -11, drie houe voor Besseling, maar nadat hy die eerste nege in 41 houe voltooi het en die voorsprong sommer al teen die vyfde putjie prysgegee het, het dit gelyk asof hy nêrens sou kom nie.

Hy het uiteindelik 75 houe, drie oor syfer, aangeteken. Hy het ses brouhoue en ’n dubbele brouhou op sy telkaart ingevul, maar darem vergoed met vyf voëltjies.

“Ek het nie eens gedink ek sal vandag kan speel nie,” het die emosioneel uitgeputte Spanjaard ná sy sege gesê.

Hy het Saterdag begin sukkel met blase op sy een groottoon en onder sy voete.

“Toe ek vanoggend (Sondag) wakker word, kon ek omtrent nie eens my gholfskoene aantrek nie. Ek het met moeite na die badkamer gestap en gedink dit is nou verby. Toe die tweede nege aanbreek, kon ek omtrent nie beweeg nie. Dit was só seer, maar ek het vir myself gesê as Tiger Woods die Amerikaanse Ope met omtrent ’n gebreekte been kon wen, kan ek voortbaklei met blase. Selfs as ek geswaai het, was die pyn omtrent ondraaglik.

“Al het ek glad nie goeie gholf gespeel nie, was ek net twee houe agter en dit het my aangespoor. Ek het met hart gespeel oor daardie laaste paar putjies,” het hy gesê.

“Hierdie is vir my so ’n spesiale plek (Leopard Creek) en ek sal terugkom hierheen tot die dag dat ek nie meer kan speel nie.

“Vir my is hierdie die paradys. Ek het nou vier baie moeilike jare agter die rug en ek wil my gesin en almal wat in my geglo het bedank vir hul ondersteuning,” het Larrazábal oor sy vyfde sege in die Europese reeks gesê.

Sjöholm het verlede naweek toe hy op ’n vliegtuig uit Europa na Afrika geklim het, nie eens geweet of hy in die toernooi sou kon speel nie. Hy was toe die tweede plaasvervanger.

Vir die Suid-Afrikaners was dit weer net nie beskore nie. Zander Lombard was op die 18de net een hou agter die voorlopers, maar het twee balle in die water agter die setperk geslaan en met ’n agt op -3 in die gesamentlike sewende plek klaargemaak.

Schwartzel (70) en Grace (73) se setysters was egter yskoud in die snikhete hitte van die Laeveld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.