Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Haotong Li neem voortou by PGA-toernooi

China se Haotong Li was ’n lid van Ernie Els se span in 2019 se Presidentebeker en het op die ouderdom van 25 reeds twee oorwinnings op die Europese Toer behaal, maar het skoon verras oorgekom toe hy die voortou by die tweede ronde van die PGA-kampioenskapstoernooi neem.

Haotong Li lê voor op die telbord ná die tweede ronde van die PGA-kampioenskapstoernooi. Foto: Getty Images

Li het die eerste ronde se 67 opgevolg met ’n foutlose 65, vyf onder, tydens Vrydag se tweede ronde en sal die naweek afslaan met ’n telkaart van agt onder.

“Ek het eintlik geen verwagtinge nie nadat ek die laaste paar maande by die huis moes bly en niks gedoen het nie,” het Li gesê.

“Ek wil net myself gaan geniet.”

Die voorste spelers op die telbord verleen ’n sterk internasionale geur met twee Britte, twee Amerikaners, ’n Australiër en ’n Fransman wat twee hou agter hom lê.

Hulle is Tommy Fleetwood, Justin Rose, Brooks Koepka, Daniel Berger, Jason Day en Mike Lorenzo-Vera, wat almal gelyk is op ses onder syfer.

Koepka is steeds op koers met sy aanslag vir ’n driekuns en het, ten spyte daarvan dat hy met ’n besering sukkel en verskeie kere behandeling vanaf sy afrigter moes kry, Vrydag met ’n telkaart van 68 gespog.

Die Amerikaner sê egter die besering kwel hom nie te veel nie.

“Dit (sy vertoning) het niks met my knie uit te waai nie, dit is oukei. Ek het vanoggend opgestaan, dit was styf, ek het strekoefeninge gedoen en toe word dit stywer en toe weer beter.

“Dit was ’n bietjie stywer toe ek balle begin slaan het, maar dit is niks om oor bekommerd te wees nie.”

Marc Wahl, sy afrigter, moes drie keer, waarvan die eerste by die 12de putjie, aan die area rondom sy linkerheup werk en aan sy been trek om druk te verlig.

Die tweemalige verdedigende kampioen is tans besig met ’n aanslag waar hy hoop om die eerste speler sedert Peter Thomson te word om een van die Grotes drie keer agtereenvolgens te wen.

Thomson het die Ope in 1954, 1955 en 1956 gewen.

Dit was egter Walter Hagen wat dit laas tydens ’n PGA-kampioenskapstoernooi kon vermag toe hy vier keer na mekaar koning gekraai het van 1924 tot 1927.

Brendon Todd, wat ná die eerste dag gesamentlik met Day voorgeloop het, is tans saam met Cameron Champ en Paul Casey agter dié spul met vyf onder.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli is in die gesamentlike 15de plek nadat hy ietwat beter vertoon het en sy 70 op die eerste dag opgevolg het met 67 en tans drie onder syfer is.

Die trio Erik van Rooyen (71 en 70), Louis Oosthuizen (70 en 71) en Charl Schwartzel (73 en 68) is almal een oor en in die gesamentlike 58ste plek.

Tiger Woods, Rory McIlroy en Justin Thomas sal almal die naweek speel.

Woods bevind hom in die gesamentlike 44ste plek ná sy tweede ronde van 72, twee oor baansyfer. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.