SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Gholf
Louis: Ek het gedink ek sal nie kan speel

Terwyl nierstene Louis Oosthuizen om drieuur Donderdagoggend in sy hotelkamer by Sun City laat krul het van die pyn, was hy vas oortuig hy het verniet sy gholfsakke op ’n vliegtuig gelaai om Pilanesberg toe te kom.

Louis Oosthuizen tydens sy foutlose rondte van 63 op die eerste dag van die Nedbank-uitdaagtoernooi. Foto: Getty Images

Geen wonder sy glimlag het by sy mondhoeke vasgehaak toe hy ná die eerste ronde van die Nedbank-uitdaagtoernooi gevra word of sy eerste 18 putjies van die week sy beste tot nog toe in dié deel van die wêreld was.

“As jy in ag neem ek het drieuur vanoggend gedink ek sou nie die bof haal nie, is ek nogal heel in my noppies met daardie rondte,” het ’n tevrede Oosthuizen gesê van die 63 (nege houe minder as baansyfer) waarmee hy Sun City getrakteer het.

“Ek is heeldag gister (Woensdag) gepla deur nierstene en was selfs vir ’n paar uur in die hospitaal in Rustenburg. Vanoggend was dit steeds ongemaklik, maar so teen sesuur, seweuur het dit gelukkig begin beter raak. Ek is oefenbof toe om te kyk of ek ’n paar houe kan inkry en dit het my glad nie daar gepla nie. Ek het wel daarvan geweet wanneer ek vinnig probeer stap het, so mense sou opgelet het dat ek alles op die baan ’n bietjie stadiger as gewoonlik gedoen het.”

Die pragswaai waarvoor Oosthuizen so bekend is, is Donderdag glad nie deur sy gesondheid beïnvloed nie en het vir ’n paar hoogtepunte gesorg. Reeds by die eerste putjie het hy ’n uitmuntende naderhou tot blote sentimeters van die vlaggie geslaan om met ’n voëltjie af te skop en nooit weer teruggekyk nie. Hy het uiteindelik nege voëltjies op sy telkaart aangeteken.

“Ek het twee weke gelede by die HSBC-kampioenskap goed gespeel, so ek het geweet my swaai is daar en my setwerk is waar dit moet wees. Ek moes net gesond wees om te kan speel,” het Oosthuizen gesê.

Die gewilde Suid-Afrikaner het die afgelope paar jaar knaend te kort geskiet by Sun City, met ’n derde plek wat verlede jaar gevolg het op agtste en negende plekke die twee jare tevore.

Soos elke Suid-Afrikaner droom hy reeds van kindsbeen van die kristaltrofee.

“Ek is mal oor hierdie baan,” het Oosthuizen sy goeie spel by dié uitleg verduidelik. “Een van my eerste beroepseges was hier, in die Dimension Data-toernooi, so elke keer as ek hier speel kan ek terugdink aan goeie oomblikke.”

Ernie Els het ook ’n foutlose rondte gehad. Foto: Getty Images

Oudergewoonte het die Suid-Afrikaners Donderdag die warmste ontvangs by die skare gekry, en met ses van die nege wat beter as baansyfer gevaar het, was daar baie om oor te juig.

Voordat Oosthuizen, die heersende Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, die toeskouers laat brul het, het nog ’n Sun City-held, Ernie Els, hul stembande in die oggend aan die gang gekry.

Die 50-jarige Els is vierde ná agt putjies ná ’n foutlose 68 waarin hy vier voëltjies aangeteken het.

“Die mooi herinneringe wat ek hier het, het weer vandag teruggekom,” het die driemalige Nedbank-kampioen gesê. “Ek het die bal mooi in spel gehou en nie die baan probeer oordonder nie. Ek kan in elk geval nie meer dít doen nie,” het hy gespot.

“Ek het ’n paar mooi naderhoue geslaan en kon dalk selfs beter gevaar het, maar ek kan nie kla nie. Ek is baie tevrede.”

Meer oor:  Sun City  |  Gholf  |  Louis Oosthuizen  |  Nedbank-Uitdaagtoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.