Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Louis onttrek aan Joburg Ope ná fratsongeluk
Louis Oosthuizen moes hom aan vandeesweek se Joburg Ope onttrek ná ’n fratsongeluk op die O.R. Tambo-lughawe waarin hy sy vinger beseer het.Foto: Gallo Images
Louis Oosthuizen se eina vingers wat hom uit die Joburg Ope gaan hou. Foto: Twitter

Die Joburg Ope sal Donderdag by die Randpark-gholfklub begin sonder een sy heel grootste trekpleisters, nadat ’n fratsongeluk Louis Oosthuizen se deelname in die wiele gery het.

Oosthuizen sou die enigste major-kampioen onder die deelnemers gewees het en vir die eerste keer in amper agt jaar in Johannesburg gholf gespeel het. Die geluksgodin het egter ’n stokkie daarvoor gesteek.

Oosthuizen se middel- en wysvinger aan sy een hand het Maandag, met sy aankoms by Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe, aan ’n trollie vasgehaak en die middelvinger het sodanig opgeswel dat hy nog nie weer ’n gholfstok behoorlik kon vashou nie.

Ek is hier en ek was reg om te speel. Ek was eintlik verlig toe die Pro-Am-toernooi afgestel is, want ek het gedink die ruskans sal goed wees vir die vinger. Maar nou is die besering erger.
Louis Oosthuizen

“My lyf voel fantasties, maar ek is bevrees ek sal nie die week kan speel nie,” het hy volgens die Europese Reeks se webblad gesê.

“Ek is hier en ek was reg om te speel. Ek was eintlik verlig toe die Pro-Am-toernooi afgestel is (weens reën en weerlig op die Hoëveld), want ek het gedink die ruskans sal goed wees vir die vinger. Maar nou is die besering erger. Daar is geen manier waarop ek my gholfstok ordentlik kan vashou nie.

“Dis baie hartseer, maar ek wil nie Donderdag afslaan en dan ná een putjie of ’n paar putjies onttrek nadat ek iemand anders ontneem het van die kans om te speel nie. Ek kan net nie dit doen nie.

“Ek het regtig daarna uitgesien om dié week te speel. Ek het gehoop om teen die einde van die seisoen in die top-20 op die wêreldranglys te wees, maar ek het ’n goeie week (in Johannesburg) nodig gehad, so dit gaan nie nou gebeur nie.”

Oosthuizen is tans 23ste op die ranglys.

Dylan Frittelli

* In Oosthuizen se afwesigheid is Dylan Frittelli die hoogste gekeurde speler in die Joburg Ope, as die wêreld se nr. 55. Hy is een van die groot gunstelinge om die titel te wen, ná ’n wonderlike maand waarin hy in vier van sy laaste vyf toernooie in die wedloop was om ’n sege te behaal.

Sondag in Mauritius het hy sy tweede Europese titel van die jaar gewen.

Frittelli sal in die eerste ronde vir die eerste keer ooit Randpark se Bushwillow-gholfbaan te siene kry nadat daar weens die nat weer in die noorde geen oefengeleenthede was nie. Maar, sê Frittelli, hy het nog nooit ’n onbekende baan gevrees nie.

“Ek dink party ouens leun te swaar op hoe bekend ’n gholfbaan vir hulle is,” het Frittelli Woensdag gesê. “Vir my is dit anders: as ek op daardie eerste bof gaan staan, vars voel en my bofhou reguit in die middel van die skoonveld af slaan, het ek alles wat ek nodig het.

“Ek vertrou my joggie, ek vertrou die boekie met afstande en ek kan mos sien wat voor my is. Ek sal regkom.”

Ek vertrou my joggie, ek vertrou die boekie met afstande en ek kan mos sien wat voor my is. Ek sal regkom.
Dylan Frittelli

Die Joburg Ope dien oudergewoonte as ’n kwalifiseringstoernooi vir aanstaande jaar se Britse Ope, met die voorste drie spelers wat nog nie gekwalifiseer het nie, wat kan begin voorberei vir dié major-toernooi.

Frittelli is die enigste speler in die veld wat reeds verseker is van deelname aan die Ope

Meer oor:  Louis Oosthuizen  |  Dylan Frittelli  |  Johannesburg  |  Onttrek  |  Gholf  |  Joburg Ope  |  Fransbesering  |  Randpark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.