Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Louis terug op major-spoor by Torrey Pines
Louis Oosthuizen bevind hom by die Amerikaanse Ope in ’n heel bekende plek: hoog op die voorlopersbord van ’n major-toernooi. Foto: AP

Dit bly een van die groter raaisels in wêreldgholf dat daar steeds net een major-titel agter Louis Oosthuizen se naam is.

Hoe kan ’n man wat ’n Britse Ope op St. Andrews met sewe houe gewen het, wat een van die mooiste gholfswaaie in die wêreld het en op sy dag vir vuurwerk op enige setperk kan sorg, ná elf jaar steeds ewe veel groot krone as, byvoorbeeld, Todd Hamilton of Ben Curtis het?

Die rede, het ons verlede maand geleer, is meer te wyte aan die moedswilligheid van die gholfgode as enigiets wat Oosthuizen verkeerd doen.

Dis immers nie sy skuld dat Phil Mickelson die middelvinger vir Vader Tyd gewys het en die Amerikaanse PGA-kampioenskap op die rype ouderdom van 50 gewen het, in een van die beter weke van Oosthuizen se loopbaan nie. Of dat Bubba Watson die beste hou van sy lewe in 2012 in ’n uitspeelstryd teen die Suid-Kapenaar op Augusta in die Meesters gespeel het nie.

Dat Oosthuizen steeds hand en tand veg vir die voorreg om homself ’n tweemalige major-kampioen te noem, was nie net laasmaand by Kiawah Islands glashelder nie, maar ook oor die eerste helfte van vandeesweek se Amerikaanse Ope.

Die 38-jarige het die eerste ronde van die Amerikaanse Ope Vrydagmiddag (SA tyd) as die gesamentlike voorloper op 67 (4-onder) afgesluit. Hy moes terugkeer om sy laaste twee putjies te voltooi en was danksy twee syfers in die voortou saam met Russell Henley.

Die Torrey Pines-baan in San Diego, waar die Amerikaanse Ope hierdie week vir die eerste keer sedert 2008 gehuisves word, is nie almal se maat nie, en het reeds Donderdag ’n paar harte gebreek. Dat Oosthuizen nie in haar kloue beland het nie, is volgens hom juis toe te skryf aan die moeilikheidsgraad.

“Ek geniet dit om op moeilike gholfbane te speel,” het hy volgens ASAP gesê. “Ek dink ek fokus ’n bietjie beter, want ek weet die ruimte vir foute is regtig klein. Hier gaan jy in die moeilikheid wees as jy nie in die skoonveld bly nie.”

Torrey Pines het Oosthuizen wel nie Vrydag toegelaat om te maak soos hy lus is nie. Hy het die eerste nege putjies van sy tweede ronde in ’n hou meer as baansyfer voltooi, ná ’n brouhou by die sesde.

Donderdag was aanvanklik ook ’n goeie dag vir die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, voor sy geluk sleg gedraai het.

Bezuidenhout het die eerste nege putjies van sy toernooi (die tiende tot die 18de) in drie houe minder as baansyfer voltooi, maar vier brouhoue oor die laaste nege aangeteken vir ’n ronde van 72 (+1).

Vrydag het dit aansienlik beter gegaan tussen die eerste en negende putjies, met voëltjies op die derde en sesde putjies wat hom terug onder baansyfer gekry het.

  • Met die druktyd was spel op Torrey Pines nog in volle swang.
Meer oor:  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.