Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Louis trap klei in 2de ronde van VSA Ope

Suid-Afrika se groot hoop op die Amerikaanse Ope-gholftoernooi by die verraderlike Winged Foot-baan in New York, Louis Oosthuizen, het die pad laat in sy tweede ronde byster geraak en op een oor syfer geëindig, nadat hy 74 houe gespeel het.

Dié Suid-Kapenaar het sy 67 van die eerste dag opgevolg met ’n 74, vier oor syfer. Dit nadat hy met net enkele putjies oor nog drie onder syfer was en net twee houe agter die voorloper, Justin Thomas.

Oosthuizen het op die eerste dag so stil-stil ’n rekord van die legendariese Jack Nicklaus in die Amerikaanse Ope verbeter deur die speler te word wat die meeste rondtes in 67 houe of minder voltooi het.

Louis Oosthuizen. Foto: Getty Images

Hierdie boorling van die aalwyn-paradys, Albertinia, en wat ook ’n erelid is van die Mosselbaai-gholfklub, het die rekord van sewe rondtes van 67 of minder wat hy saam met Nicklaus gehou het, opgeskuif na agt.

Hoewel Oosthuizen nog nooit ’n Amerikaanse Ope kon wen nie, het Nicklaus dit wel vier keer in sy loopbaan reggekry.

Hoe onvoorspelbaar gholf nou maar net kan wees, het Oosthuizen Vrydag weer aan sy lyf gevoel toe hy ’n unieke voëltjie op die negende putjie gemaak het.

Nadat hy sy derde hou nie uit die sandkuil kon kry nie, het hy sy opvolghou vanuit die sand in die blikkie laat beland vir een van sy voëltjies.

Oosthuizen het slordig geraak oor die laaste paar putjies en vier houe afgestaan om die dag op een meer as syfer af te sluit. Om die pyn vir hom te vererger, het hy twee houe op die 18de afgestaan.

Vir twee van die ander Suid-Afrikaners wat Vrydagoggend deel van die vroeg-uit-die-vere-brigade was, Shaun Norris en Branden Grace, het dinge ook nie so voorspoedig verloop nie.

Norris, wat een van net 21 spelers was wat op die eerste dag onder baansyfer kon speel toe hy ’n 69 ingehandig het, het swaar getrek en ’n liederlike 79 op sy telkaart ingevul.

Dit het hom laat terugsak na agt oor syfer en sy hoop om die afsnypunt te haal, is daarmee heen.

Grace, soos Oosthuizen ’n Suid-Kapenaar wat in Buffelsbaai grootgeword het, het agt oor syfer (78) gespeel om op ’n vieslike 13 oor syfer ook sy tasse te moes pak.

Die Belg Thomas Pieters was vroeg op die tweede dag bo-aan die voorlopersbord toe hy twee houe aan syfer afgetrek het en op ses minder tydelik vir Thomas uit die voorste stoel gelig het.

Dit was ook van korte duur, met hierdie Belg wat ook oor sy tweede nege gestruikel het en uiteindelik soos Oosthuizen vir 74 geteken het.

Hy bevind hom gelyk aan syfer en met die baan wat sy tande wys, is dit gewis ’n telling wat nog sterk in die wedloop is.

Voorlopersbord

Meer oor:  Winged Foot  |  Louis Oosthuizen  |  Amerikaanse Ope  |  Branden Grace  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.