Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Lowry laat die Ierse vlag hoog in Ope wapper
Die Ier Shane Lowry met die Claret Jug nadat hy op Royal Portrush in Noord-Ierland die Britse Ope-gholftoernooi gewen het. Foto: Reuters

Die organiseerders van die Britse Ope-gholftoernooi kon nie vir ’n beter sprokieseinde gevra het nie.

Die 32-jarige, onbesonge Ier Shane Lowry het hom Sondag op Royal Portrush in Noord-Ierland in die gholfannale verewig toe hy die Ope in gure toestande met ’n allemintige ses houe gewen het.

Lowry (269) het ses houe voor die Engelsman Tommy Fleetwood (275) geëindig, met die Amerikaner Tony Finau (277) alleen in die derde plek.

Nog ’n Amerikaner, Brooks Koepka, en die Engelsman Lee Westwood gevolg, was gesamentlik vierde op 278.

Vooraf is daar baie hoë verwagtinge van die Noord-Ierse held Rory McIlroy geskep, maar nadat hy nie Vrydag die valbyl kon vryspring nie, het Lowry die draaiboek herskryf.

Hy het in die laaste ronde met ’n voorsprong van vier houe bo Fleetwood afgeslaan nadat hy die baanrekord met ’n 63 in die derde ronde laat spat het.

Hy het hom nie deur sy senuwees of die toestande laat onderkry nie en die vierde ronde in 72 houe, een hou meer as die baansyfer, voltooi.

Hy het op 269 houe geëindig, 15 houe minder as baansyfer.

Hy is slegs die vyfde Ier (of Noord-Ier) wat die Claret Jug kon lig nadat Fred Daly, Padraig Harrington, Darren Clarke en McIlroy dit voor hom reggekry het.

“Ek het Sondag baie met my joggie (Bo) gesels. Ek het die hele tyd aan hom gesê dat ek nie ophou daaraan kan dink om die Claret Jug vas te hou nie.

“Al wat hy gesê het, is om gefokus te bly. Ek kan nie wag om môre wakker te word nie ... en hoe dit sal voel nie. Dis ongelooflik,” het Lowry aan die BBC gesê.

Lowry, wat in 2007 die Ierse amateurkampioen was, kon nog net vier toernooie in die Europese reeks wen.

* Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen, wat die ergste toestande vrygespring het, het saam met Erik van Rooyen (albei 283) in die gesamentlike 20ste plek geëindig.

Oosthuizen het ’n baie skaflike 69 houe, twee onder die baansyfer, in die laaste ronde aangeteken.

Sy rondte het vier voëltjies ingesluit, maar hy het houe aan baansyfer op die agste en 12de putjies afgestaan.

Van Rooyen het 73 houe (+2) aangeteken, wat twee voëltjies ingesluit het, hoewel hy op vier putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Dylan Fritelli, wat Vrydag nog stewig in die wedloop was, kon nie die gure toestande in die laaste ronde baasraak nie en het 78 houe (+7) aangeteken. Hy het saam met Ernie Els in die gesamentlike 32ste plek geëindig.

* Die grootste hartseerverhaal was dié van die Amerikaner JB Holmes, wat slegs vier houe agter Lowry in die vierde ronde afgeslaan het.

Holmes het ’n liederlike 87 houe, 16 meer as die baansyfer, op sy telkaart ingevul nadat hy die tweede nege in 46 houe voltooi het. Hy het van derde af na 67ste afgeskuif.

– Sportredaksie en europeantour.com

Meer oor:  Gholf  |  Louis Oosthuizen  |  Royal Portrush  |  Britse Ope  |  Shane Lowry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.