Graeme McDowell is bekommerd dat Covid-19 sy kans gaan beduiwel om vanjaar by Augusta in die Amerikaanse Meesterstoernooi te speel.
Slegs die voorste 50 spelers op die wêreldranglys word uitgenooi.

Graeme McDowell vroeër die maand in die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi. Foto: Getty Images
McDowell, die Amerikaanse Ope-kampioen in 2010, is tans 49ste, maar dié major is weens Covid-19 van April na Oktober uitgestel.
Dié Noord-Ier besef daar is ’n moontlikheid dat sy uitnodiging in die slag kan bly as die kwalifikasiereëls aangepas word.
“Ek sal baie bly wees as die Meesterstoernooi (se organiseerders) hou by die huidige kwalifikasie wat sou geld as dit oor twee weke gespeel sou word.
“Maar daar is so baie onsekerheid. Gaan dit plaasvind? Indien wel, wanneer? En hoe gaan daar besluit word wie kwalifiseer?
“Dit is baie moeilik. Hoewel ek in die top-50 is, moes die Spelerskampioenskap en Wêreldputjiespel-toernooi nog voor die Meesters gespeel word.
Dit is skrikwekkend om te sien hoe so iets só vinnig ’n uitwerking op ’n onderneming kan hê.
“Ek is seker selfsugtig om te hoop daar sal gehou word by die huidige 50 spelers.”
Hy sê geduld is intussen die wagwoord.
“Die Europese reeks en die PGA-reeks doen hul bes om ons op hoogte te hou, maar ons weet nie wat die toekoms inhou nie.”
McDowell, wat in Florida, in die VSA, wortel geskiet het, is nie net bekommerd oor sy vooruitsigte op die gholfbaan nie.
Hy besit twee restaurante in Florida en die eetplekke se toekoms word deur die pandemie bedreig.
“Dit is skrikwekkend om te sien hoe so iets só vinnig ’n uitwerking op ’n onderneming kan hê.
“Dan besef jy hoe broos ons is. Ons het sowat 70 werknemers in die restaurante en dit gee my perspektief oor wat mense deurmaak en die invloed wat dit op hul families en kinders het.
“Dit maak dat ek besef dit waarmee ek worstel is die minste van ons probleme.” – TeamTalk