Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Francesco trap grotes se tjank af

Tiger Woods het Sondag vlietend geflikflooi om weer in die wenkampie van een van gholf se grotes te eindig – maar uiteindelik was dit die Italianer Francesco Molinari wat die gesogte Claret Jug omhoog kon hou.

Francesco Molinari het supersterre soos Jordan Spieth, Rory McIlroy en Tiger Woods Sondag in die Britse Ope op hul neuse laat kyk. Foto: Reuters

Molinari het die kersie op die koek van twee uitsonderlike maande gesit, toe hy by die Carnoustie-gholfklub in Skotland as sy land se eerste major-kampioen ooit gekroon is.

Die Italianer was aan die begin van die dag drie houe agter die derderonde-voorlopers, Jordan Spieth, Kevin Kisner en Xander Schauffele. Maar hy het hulle almal uiteindelik in sy stof laat stik met ’n foutlose ronde van 69 (twee houe minder as baansyfer).

Op ’n winderige dag wat Carnoustie se tande uiteindelik ontbloot het, was hy die enigste speler wat geen brouhoue aangeteken het nie. Ná syfers by die eerste 13 putjies het hy sy eerste voëltjie van die dag by die veertiende aangeteken, en die deur daarna in die res se gesigte toegeklap met ’n voëltjie by die agttiende – die beloning vir ’n wonderlike naderhou.

Hy het uiteindelik twee houe voor Kisner (74), Schauffele (74), Justin Rose (69) en Rory McIlroy (70) geëindig.

Dit was Molinari se vermoë om enige teenspoed te oorkom, wat hom van die grootste oomblik van sy loopbaan verseker het. Hy was nie baie akkuraat van die bof af nie (hy het net 40% van die skoonvelde bereik), maar sy ysterspel en setwerk was uit die boonste rakke.

Dié sege is Molinari se derde in ses toernooie, saam met ’n tweede plek in verlede week se John Deere Classic. Ondanks dié wonderlike spelpeil was sy naam op min lippe vir die grootste deel van die toernooi. Spieth, die verdedigende kampioen en McIlroy het ’n deel van die aandag gekry – maar die meeste oë was op Molinari se speelmaat: Woods.

Woods was in ’n stadium die alleen-voorloper op 7-onder en vir die eerste keer sedert 2011 se Meesterstoernooi boaan ’n major-voorlopersbord. Hy kon sy aanslag nie volhou nie, met ’n dubbele brouhou op die 11de en ’n brouhou by die 12de wat sy doppie geklink het. 

Hy het uiteindelik ná ’n 71 drie houe agter Molinari geëindig, in die gesamentlike sesde plek.

Tog kan daar geen twyfel meer wees nie dat Woods met mening terug is. Hy sal baie moed put uit sy vertoning in die Ope, nadat daar skaars ’n jaar gelede groot twyfel was of hy selfs ooit weer sou kon speel ná al sy rugprobleme.

Die Kapenaar Erik van Rooyen het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar. Hy het gesamentlik 17de klaargemaak ná ’n 73 in die laaste ronde.

Louis Oosthuizen (73) was gesamentlik 28ste.

Zander Lombard, wat Sondag op -4 begin het en nog sterk in die prentjie was, het ’n nagmerrie beleef en ’n onooglike 82 (+11) op sy telkaart ingevul. Hy was gesamentlik 67ste.

Volledige tellings.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Francesco Molinari  |  Britse Ope  |  Carnoustie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.