Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Morikawa wys gholf het blink toekoms

Collin Morikawa het diep genot geput uit sy eerste Grand Slam-oorwinning en is gereed vir nog baie meer sukses op gholf se grootste verhoog.

Collin Morikawa het die Amerikaanse PGA-kampioenskap in San Francisco gewen. Foto: USA Today Sports

Die 23-jarige Amerikaner het Sondag (Maandag SA tyd) die eerste Grand Slam-toernooi van 2020, die Amerikaanse PGA-kampioenskap, gewen nadat hy ’n rondte van 64 houe (ses minder as baansyfer) by die Harding Park-baan in San Francisco aangeteken het.

Morikawa, wat as ’n vyfjarige in Kalifornië begin speel gholf het, het maar slegs aan sy tweede Grand Slam-toernooi deelgeneem.

“Dit gaan nie hier ophou nie. Ek het nou ’n lekker proesel gekry van hoe dit voel om op dié vlak te wen,” sê Morikawa.

Al wat dié vertoning nog beter vir Morikawa sou gemaak het, as daar toeskouers was om dit te aanskou. Gholf-aanhangers is egter verbied by die Harding Park-baan weens die Covid-19-pandemie.

“Ek het regtig die ondersteuners gemis. Ek weet ons almal moes aanpassings maak omdat daar nie toeskouers is nie,” sê hy.

Die toeskouers sou veral gebrul het by die syfer-4 16de putjie (269 m), toe die jong Amerikaner Sondag die bofhou van sy lewe geslaan het.

Hy kon nie sien waar die bal geland het nie, omdat daar ’n boom in die pad was. Dit het egter ’n raps meer as twee meter van die blikkie tot stilstand gekom en hy het dit gesink vir ’n arend.

Dit gaan nie hier ophou nie. Ek het nou ’n lekker proesel gekry van hoe dit voel om op dié vlak te wen.
Collin Morikawa

“Dit was die een keer wat ek regtig die toeskouers gemis het.”

Morikawa het by die uitsoekgroep van Jack Nicklaus, Tiger Woods en Rory McIlroy aangesluit as wenners van die PGA-kampioenskap voor hul 24ste verjaarsdag.

Dié toernooi het ook gewys dat die toekoms van gholf rooskleurig is, ná uitstekende vertonings deur die spel se jong Turke.

Terwyl ervare spelers soos Dustin Johnson en Paul Casey in die wenner se nek geblaas het, het ander jong spelers Matthew Wolff (21), Scottie Scheffler (24) en Bryson DeChambeau almal drie houe agter Morikawa geëindig.

Cameron Champ (25) was ook vroeg in die laaste ronde nog in die prentjie, voordat ’n dubbele brouhou op die 9de putjie sy wenkans verydel het.

Colin Morikawa het die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen in slegs sy tweede Grand Slam-toernooi. Foto: USA Today Sports

Brooks Koepka (30) het gesê hy was beïndruk met hoe vinnig van die jong spelers die oorgang van gholf op universiteits- tot dié op beroepsvlak gemaak het.

“Kyk na al die ouens wat nou uit die kolleges kom. Hulle is almal gereed om nóú te wen,” het Koepka, wat gepoog het om sy derde PGA-kampioenskap agtereenvolgens te wen, gesê.

“Ek Matthew Wolff, Colin Morikawa en Viktor Howland is indrukwekkend en ek haal my hoed af vir hulle.”

Engelsman Casey (40) het gesê dit is duidelik dat Morikawa ’n krag in die sport gaan wees.

“Daar is altyd ’n (jong) groep spelers wat na vore tree en hy was nie die een (in die groep) wat die meeste aandag gelok het nie. Ek is ’n veteraan en kan talent identifiseer wanneer ek dit sien,” sê Casey.

Scheffler het ook gesê gholf is “in ’n goeie plek” met al die talent wat deurkom.

“Ek dink enige speler kan op enige dag wen. Dit is baie opwindend,” sê Scheffler. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.