Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Wilco hou sy neus voor in Joburg Ope

Vir die afgelope drie dae weergalm Wilco Nienaber se naam rondom die gholfwêreld.

‘Oppas, Bryson!’ het Fox Sports Donderdag laat hoor nadat die 20-jarige Bloemfonteiner in die eerste ronde van die Joburg Ope by die Randpark-gholfklub ’n bofhou van 439 treë geslaan het, met verwysing na die Amerikaanse kanonpoot Bryson DeChambeau.

Wilco Nienaber lig sy duim ná sy laaste hou in die derde ronde van die Joburg Ope, waarin hy die 54 putjie-voorloper is.Foto: Getty Images

“Dit grens aan die obsene,” het ’n oorblufte SuperSport-kommentator laat hoor. En op die Golf Channel is Nienaber terstond herdoop tot “Mr. 400”.

Mr. 400 homself was terloops nog altyd effens nonchalant oor sy vermoë om die dimpels van ’n gholfbal te slaan. Vir hom is dit net een wapen in ’n arsenaal waarmee hy almal tussen hom en ’n trofee wil wegblaas.

En vyf maande voor sy 21ste verjaarsdag doen al die wapens in daardie arsenaal vandeesweek wat hy van hulle verwag.

Nienaber sal die laaste ronde van die Joburg Ope Sondag begin met groot drome van ’n eerste Europese titel, nadat hy Saterdag se derde ronde met ’n voorsprong van een hou voltooi het. Die jongeling het ses voëltjies en twee vroeë brouhoue aangeteken in ’n ronde van 67 (vier houe minder as baansyfer) wat sy totaal tot 197 (-16) gevoer het.

Die Deen Joachim B. Hansen is nog ’n hou terug ná ’n uitmuntende 64, wat ’n arend by die Firethorne-baan se vierde putjie ingesluit het. Hy is die enigste speler binne vier houe van Nienaber, met ’n vyftal ander (onder wie die driemalige Europese wenner Brandon Stone en sy mede-Suid-Afrikaners Shaun Norris en Jacques Blaauw) vyf houe agter in die derde plek.

Op ’n reënerige Saterdag het Nienaber se bal nie heeltemal so ver getrek soos op die eerste twee dae nie – wat heelwat sê as jy in ag neem dat hy so byna die 381 treë lange negende putjie se setperk van die bof af gehaal het, en die 14de se setperk met ’n sandyster kon nader ná ’n bofhou van 390 treë.

By albei daardie putjies is hy met voëltjies beloon, maar dit was nie net die woema in sy drywer wat hom houe help inwin het nie. Hy het byvoorbeeld by die 13de ’n voëltjie-sethou van meer as 20 voet gesink, en by die sesde amper ’n arend aangeteken nadat hy van die soom van die setperk af geset het.

Met goeie rede was alle oë op die Bloemfonteinse melkbaard, maar dit was nie net vir hom wat die Johannesburgse reën Saterdag soos water van ’n eend se rug was nie.

Hansen, ’n 30-jarige Deen wat ook steeds droom oor ’n Europese deurbraak, was vuurwarm oor die eerste helfte van die Firethorne-baan, met ’n arend en vier voëltjies tussen die vierde en negende putjies. ’n Brouhou by die 11de het sy momentum gebreek, maar danksy voëltjies by die 14de en 18e putjies is hy steeds stewig in die wedloop.

Soos Hansen, het Stone ’n arend by die vierde aangeteken en vir ’n 64 op sy telkaart geteken – maar hy moes eers wakker geruk word voordat hy kon vlamvat.

Sy enigste brouhou van die dag was by die derde, waar hy drie keer geset het.

“ ’n Drieset-brouhou op ’n kort syfer-4 . . . dit kry ’n mens nogal aan die gang,” het Stone gesê.

“Ek en Teagan (Moore, sy joggie) het mekaar so gekyk met daai uitdrukking van, dis nie waarvoor ons so vroeg op ’n Saterdag opgestaan het nie. Maar toe haal ek die vierde setperk vir die eerste keer die week van die bof af, en van daar af was my gholf net solied.”

Solied is inderdaad ’n goeie woord vir die spel waarmee Stone tussen die vierde en 15de daardie arend en ses voëltjies aangeteken het. Hoewel hy vyf houe agter is, is hy beslis een van die gevaarmanne op wie Nienaber Sondag ’n oog moet hou.

Norris, wat Donderdag saam met Nienaber die 18 putjie-voorloper was, is ook nie uit die wedloop nie, ná ’n Saterdag-ronde van 69. En Blaauw, die 36 putjie-voorloper, sal glo hy kan Sondag nog iets groots vermag ondanks ’n teleurstellende 73 Saterdag.

Voorlopersbord

Meer oor:  Gholf  |  Wilco Nienaber  |  Joburg Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.