Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Net 50 veg voort in Meesters ná 2de ronde

Net die voorste sowat 50 spelers uit die 88 wat Donderdag aangetree het vir die eerste ronde van die Amerikaanse Meesters op Augusta National, sal Saterdag in die derde ronde in aksie wees.

Justin Rose Foto: Reuters

Die verwagte afsnypunt ná Vrydag se tweede ronde, nadat die baan waarskynlik wéér sy tol geëis het, is twee swakker as die baansyfer.

Die “harde afsnypunt” is in 2020 deur Augusta-beamptes ingestel met die doel om die getal deelnemers oor die laaste twee dae tot ’n minimum te beperk, gegewe die globale koronavirus-pandemie.

Sedert 2013 het alle spelers wat ná 36 putjies binne tien houe van die voorloper was, outomaties ’n afslaankans in die derde ronde gekry, tesame met die voorste 50 spelers wat die vasgestelde afsnypunt gehaal het.

Hierdie nuwe bepaling verseker dat die Meesters-afsnypunt nou die taaiste is om te haal van al vier major-toernooie.

In die Amerikaanse Ope haal die voorste 60 spelers die afsnypunt, terwyl die voorste 70 in die Amerikaanse PGA en die Britse Ope weer op die Saterdag kan aantree.

Met ’n geskatte afsnypunt van twee swakker, sou ’n hele paar groot name Vrydag-laataand (SA tyd) moes vinger trek om te oorleef.

Onder die spelers in dié gevaarsone was Phil Mickelson (3 swakker as baansyfer ná die eerste ronde), Bryson DeChambeau (+4), Louis Oosthuizen (+4), Rory McIlroy (+4) en Jason Day (+5).

Die uitdaging wat Augusta dié keer bied, word onderstreep deur die feit dat slegs 12 spelers ná die eerste ronde die baansyfer (72) kon klop. Die gemiddelde rondetelling was 74.5.

Die maklikste putjie ná die eerste 18, danksy ’n gunstige penplasing, was die tweede (syfer 5), wat 37 voëltjies opgelewer het en teen gemiddeld 4.705 voltooi is.

Die taaiste putjie was die 11de (syfer 4), waar net drie spelers syfer kon klop en ’n gemiddelde telling van 4.511 behaal is.

Dis in skrille kontras met die Meesters in November verlede jaar, toe spelers die sagter skoonvelde en setperke kon benut en 53 van hulle die eerste 18 in beter as die baansyfer voltooi het.

Dis juis die gunstiger toestande wat die Amerikaner Dustin Johnson in staat gestel het om die Meesters met ’n rekordtelling van 20 beter as die baan te wen.

Dit onwaarskynlik dat daar vanjaar naby aan dié telling gekom gaan word, ondanks die Engelsman en vroeë voorloper Justin Rose se verbluffende ronde van 65.

Wat wel in spelers se guns kan tel, is die verwagte reënbuie wat vir Vrydag en Saterdag voorspel is.

Dit behoort die skoonvelde en setperke sagter te maak en sal spelers toelaat om meer aggressief te wees met hul bofhou, naderhoue en sette.

Gholfskrywers vir die Amerikaanse CBSSport-netwerk voorspel die wentelling Sondag is enigiets tussen 12 en 16 beter as die baansyfer.

Ná die eerste ronde het beroepswedders, soos te wagte, Rose as sterkste aanspraakmaker om die titel voorgehou, met ’n 25,5% kans om die groen baadjie te dra wat hom in 2015 en 2017 as naaswenner ontsê is.

Die ander sterk kandidate is die Spanjaard Jon Rahm (7,4%), Japan se Hideki Matsuyama (7.1%) en die Amerikaners Webb Simpson (6,0%) en Patrick Reed (5,4%).

Een ding wat nie aan voorspellings oorgelaat word nie, is die prysgeld wat op spel is. Uit ’n totale pryspot van R168 miljoen, sal die wenner sowat R30 miljoen ryker wees.

Selfs diegene wat ná Sondag heel laaste eindig, sal ’n gawe tjekkie vir sowat R410 000 huis toe neem. – Sportredaksie

Meer oor:  Amerikaanse Meesterstoernooi  |  Augusta  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.