Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Nick en Padraig help Rahm oor wenstreep
Kyk hoe mooi! Jon Rahm glimlag van oor tot oor nadat hy Sondagaand die Amerikaanse Ope gewen het. Foto: USA Today Sports

Toe Jon Rahm vroeër vandeesmaand deur ’n positiewe koronavirus-uitslag gedwing is om ná 54 putjies aan die Memorial-toernooi te onttrek, kon hy maklik in ’n hopie gaan sit en homself bejammer het.

Hy moes immers wegstap van ’n toernooi waarin hy ’n voorsprong met ses houe gehad het. Hy moes homself in sy huis afsonder van sy twee maande oue baba én van sy ouers, wat hy vir die eerste keer in meer as ’n jaar gesien het.

Daar was baie om oor krapperig te wees.

Gelukkig was daar geen tekort aan raad vir die 26-jarige Spanjaard oor hoe om deur sy beproewende tyd te kom nie. Veral twee boodskappe, van die major-kampioene Nick Faldo en Padraig Harrington, het Rahm oortuig daar wag ’n mooi sonsopkoms ná die duister.

Hoe mooi sou hulle nie kon voorspel nie. In sy eerste toernooi ná daardie teenspoed is Rahm Sondagaand by Torrey Pines in San Diego as die nuwe Amerikaanse Ope-kampioen gekroon, nadat hy die enigste aanspraakmaker was wat nooit in die pylvak kleigetrap het nie.

Hy het die dag op onwaarskynlike wyse begin, met voëltjies op albei die eerste twee putjies, en op selfs meer onwaarskynlike wyse afgesluit, met voëltjies op albei die laaste putjies. Die uiteinde was ’n skitterrondte van 67 (-4), ’n totaal van 278 (-6) – en sy eerste major-titel.

Harrington en Faldo se boodskappe het geen klein rol daarin gespeel nie.

Ek het Padraig en Nick in my agterkop gehad terwyl ek op die baan was en daaraan gedink dat hulle gewen het kort ná teenspoed. Ek het net geweet dis my dag.

“Padraig het vir my ’n storie vertel van hoe hy ná 54 putjies met vyf houe voor was, maar ’n verkeerde telkaart geteken het en gediskwalifiseer is. Hy het gesê hy het baie meer daaruit geleer as wat hy ooit uit ’n oorwinning sou,” het Rahm volgens Reuters vertel, ná sy sege Sondag met een hou oor Louis Oosthuizen.

“Nick het ’n boodskap gestuur oor ’n toernooi waarin hy ses voor was met ses putjies oor en gediskwalifiseer is. Hy het ook gepraat oor hoe hy daaruit geleer en die volgende week gewen het.

“Ek het Padraig en Nick in my agterkop gehad terwyl ek op die baan was en daaraan gedink dat hulle gewen het kort ná teenspoed. Ek het net geweet dis my dag.

“Ek glo die grootste terugslae lewer die grootste deurbrake op en dis hoekom ek positief bly. Ek het vir Kelley (sy vrou) gesê iets goed is om die draai. Ek het net nie geweet wat nie.

“Ek het (Sondag) op die gholfbaan geweet daar is iets spesiaal in die lug. Ek kon dit voel – ek het eenvoudig geweet ek kan wen en dit geglo.”

Louis Oosthuizen stap met geboë skouers weg nadat hy nie Sondag met ’n sethou vir ’n voëltjie op Torrey Pines se 16de putjie kon slaag nie. Foto: AP

• Terwyl Rahm se jare lange belofte uiteindelik ’n major-kroon opgelewer het, het dit Oosthuizen se wag vir grote nr. 2 nog ’n slag uitgestel.

Die 38-jarige Suid-Afrikaner was Sondag vir die sesde keer die naaswenner in ’n major-toernooi – net vier weke nadat dit hom by die Amerikaanse PGA-kampioenskap vir die vyfde keer oorgekom het.

Hy is een van 13 spelers wat al ses keer net buite die major-wenkamp gestaan het, maar die enigste met minder as twee major-titels op sy kerfstok.

Oosthuizen het ná sy teleurstellende einde aan Sondag se rondte (toe ’n windskewe bofhou by die 17de putjie gelei het tot ’n brouhou wat sy aanslag so te sê beëindig het) vir ’n paar minute voor die wêreldmedia gaan staan, met sy pyn en teleurstelling uitgespel op sy gesig.

“Ek het nie gewen nie. Ek is weer tweede. Ja, dit is frustrerend. Dit is teleurstellend,” het hy volgens ASAP Sports gesê.

“Ek speel goeie gholf, maar . . . Om ’n major te wen gaan nie net gebeur nie, jy moet uitgaan en goeie gholf speel. Vandag (Sondag) was ek goed, maar nie goed genoeg nie.

“Ek voel ek het my kanse benut, soos jy moet doen as jy wil majors wen. Soms werk dinge uit vir jou en ander kere nie.”

Daar het nou reeds tien jaar en 11 maande verloop sedert Oosthuizen die gholfwêreld geskok het deur die Britse Ope by St. Andrews met sewe houe te wen, in ’n stadium wat sy naam nog relatief onbekend was.

Vyf jaar later het hy so byna weer by St. Andrews gewen, net om in ’n uitspeelstryd deur Zach Johnson geklop te word. Ook in 2012 is sy hart in ’n uitspeelstryd gebreek: dié keer toe Bubba Watson hom met ’n wonderhou geklop het en so verhoed het dat hy die groen baadjie van sy beste vriend, Charl Schwartzel, by die Meesterstoernooi kon ontvang.

Sy ander tweede plekke was in 2015 se Amerikaanse Ope en 2017 se PGA-kampioenskap.

Meer oor:  Padraig Harrington  |  Nick Faldo  |  Louis Oosthuizen  |  Amerikaanse Ope  |  Gholf  |  Jon Rahm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.