Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Nienaber, Norris vat voor in Joburg Ope
Wilco Nienaber lê Donderdag aan setperk toe in die eerste ronde van die Joburg Ope-toernooi op Randpark se Firethorn-baan. Foto: Gallo Images

Dis onverklaarbaar dat Suid-Afrikaanse gholf nie die afgelope agt jaar ’n major-wenner kon oplewer nie, maar dit beteken allermins dat die toekoms nie belowend is nie.

Die 20-jarige Wilco Nienaber het dít onomwonde onderstreep toe hy Donderdag in die eerste ronde van die Joburg Ope-toernooi met ’n voortreflike 63 – agt houe beter as die baansyfer van Randpark se Firethorn-baan – begin het.

Dié lenige Bloemfonteiner het die bal reguit en vér geslaan, wat hom in staat gestel het om veral op die syfer-5-putjies te gedy.

Sy landgenoot Shaun Norris, wat ’n goeie 18 jaar sy senior is, het deur die loop van die middag as ’n gesamentlike voorloper by Nienaber aangesluit.

Nienaber, wat op die 10de putjie afgeslaan het, was ongelukkig om veral op die 15de en 16de houe aan baansyfer af te staan.

Dit het hom egter nie ontsenu nie. Hy het die tydelike insinking met agtereenvolgende voëltjies opgevolg.

Agt minder as baansyfer is goed op enige baan. Dis nog beter om dit hier, in die eerste ronde van die Joburg Ope, te doen.
Wilco Nienaber

“Agt minder as baansyfer is goed op enige baan. Dis nog beter om dit hier, in die eerste ronde van die Joburg Ope, te doen.

“Ek het nog nie baie in Suid-Afrika gespeel sedert ek (in 2019) ’n beroepspeler geword het nie en ek sien ná dié goeie begin baie uit na die volgende drie dae.

“Daar is drie brouhoue op my telkaart, wat nie ideaal is nie. My setwerk was gangbaar, maar nog nie waar dit moet wees nie.

“Maar dis steeds ’n baie goeie begin,” het die jongeling na sy ronde gesê.

Dié indrukwekkende vertoning het ook ’n nuwe hoofstuk in Nienaber se jong loopbaan ingelui.

Jason Scheepers, wat voorheen Hennie Otto se joggie was, dra nou Nienaber se sak. Hulle het mekaar eers Maandag ontmoet.

Shaun Norris

“Ek het hom al gesien, maar ons het nog nooit gesels nie. Hopelik is dit die begin van ’n goeie vennootskap. Hy het my vandag (Donderdag) baie gehelp met ysterkeuses vir my naderhoue.”

Norris het nes Nienaber sy ronde op die tweede nege begin en het net 30 houe nodig gehad om dit te voltooi.

Sy eerste dag het ses voëltjies, ’n arend en geen brouhoue opgelewer.

“Dit is net lekker om weer by die huis te wees. Die jaar was vir ons almal deurmekaar en ek was (weens die Covid-19-inperking) vir langer as vier maande in die VSA gestrand.

“Toe hulle besluit om die drie toernooie te hou (Joburg Ope, Dunhill-kampioenskap en Suid-Afrikaanse Ope), was ek en my gesin meer as gelukkig om huis toe te kom.”

Norris sê ondanks sy foutlose ronde, is dit ’n baan “wat jou kan byt as dit wil”.

“Ek speel die laaste paar maande goeie gholf en het die afgelope tyd ’n hele paar lae rondes by Silver Lakes (in Pretoria) aangeteken,” het hy bygevoeg

Die Amerikaner Johannes Veerman en die Kanadees Aaron Cockerill (albei 64) is een hou agter die voorlopers, terwyl vyf buitelanders – Rhys Enoch (Wallis), Adilson da Silva (Brasilië), Richard Mcevoy (Engeland), Benjamin Follett-Smith (Zimbabwe), Gonzalo Fernández-Castaño (Spanje) – op 65 ’n verdere hou terug is.

Meer oor:  Wilco Nienaber  |  Johannesburg  |  Joburg Ope  |  Sonskynreeks  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.