Justin Thomas het nog ’n prys by sy goeie jaar op die gholfbaan gevoeg toe hy Dinsdag as die PGA van Amerika se Speler van die Jaar aangewys is.

Justin Thomas vroeër vanjaar in die Spelerskampioenskap in Florida in aksie. Foto: Reuters
Webb Simpson het op sy beurt die Vardon-trofee vir die laagste houe-gemiddeld in die afgelope PGA-seisoen verower.
Thomas, wat drie toernooie tydens die seisoen gewen en die naaswenner in die FedEx-uitspeelstryde was, het die Spanjaard Jon Rahm uitgestof om die prys, wat op ’n puntestelsel werk, te verower. Dit is die tweede keer in sy loopbaan wat Thomas dié titel wen.
Thomas het die CJ Cup-toernooi in Oktober gewen, die Sentry-toernooi van kampioene in Januarie en die Wêreld-kampioenskap (WGC) se St. Jude-uitnodigingstoernooi in Augustus. Daardie sege het hom tot in die eerste plek op die wêreldranglys laat opskuif.
Hy het met 66 punte geëindig, gevolg deur Rahm op 56 en Collin Morikawa, wat die PGA-kampioenskap gewen het, op 54.
Simpson het ’n aangepaste houe-gemiddeld van 68.978 in 52 voltooide rondes om die Vardon-trofee net-net voor Rahm (69.127) weg te raap.
Die PGA-reeks het ook die Speler van die Jaar-prys, waaroor die spelers self stem, en daardie wenner sal in September aangewys word. – Reuters