Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Olimpiese geelwortel hang voor Higgo

Ná sy heldedade Sondag in Suid-Carolina sou ’n mens Garrick Higgo nogal ’n rustige week gegun het. Maar dis die jongeling nie beskore nie; inteendeel, kan laksheid hom hierdie naweek duur te staan kom.

Nadat hy Sondag ’n agterstand van ses houe uitgewis het om die Palmetto-kampioenskap te wen, het die 22-jarige Stellenbosser opgeskuif tot 39ste op die wêreldranglys, wat hom nou Suid-Afrika se naasbeste speler maak.

Garrick Higgo kan teen Maandag seker wees van sy plek in Suid-Afrika se Olimpiese span – mits hy nie hierdie naweek te swak afsteek teen Christiaan Bezuidenhout en Branden Grace nie. Foto: Getty Images

Net Louis Oosthuizen (18de) is in dié stadium hoër as hy.

As Higgo teen Maandag steeds een van die land se twee voorste spelers is, sal hy ’n uitnodiging kry om Suid-Afrika op die eerste naweek van Augustus in Tokio in die Olimpiese gholftoernooi te verteenwoordig. Die land mag twee spelers na sowel die mans- as vroue-kompetisies stuur.

In die geval van die mans word die kwalifiseerders bepaal volgens die wêreldranglys van 21 Junie.

Waar Oosthuizen kan rustig wees oor sy reg om Tokio toe te gaan – en volgens Thomas Abt, die kommissaris van die Sonskynreeks, dié keer van plan is om sy uitnodiging te gebruik – moet Higgo nog oor sy skouer loer. Sowel die heersende Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, as verlede jaar se SA Ope-kampioen, Branden Grace, het immers nog ’n kans om hom op die ranglys te vang.

Christiaan Bezuidenhout móét by Torrey Pines in die toptien eindig as hy Suid-Afrika by die Olimpiese Spele wil verteenwoordig. Foto: Getty Images

Bezuidenhout is net sewe plekke onder Higgo, in die 46ste posisie, en kan met ’n toptien-uitslag in vandeesweek se Amerikaanse Ope bo-oor die jonger man spring.

Die Torrey Pines-gholfbaan is ’n derduiwel van ’n baan en ’n onbekende faktor vir die meeste van die nege Suid-Afrikaners wat van Donderdag daar Amerikaanse Ope-glorie sal najaag – ook vir Bezuidenhout. Maar ná sy blink spel in verlede maand se Amerikaanse PGA-kampioenskap (waar hy ná drie rondes in die topvyf was), sal die grootsheid van die major-verhoog die Delmas-boorling minstens nie oorweldig nie.

Grace is natuurlik geen vreemdeling vir major-gholf nie, met vier topvyf-uitslae in 33 groot toernooie agter sy naam. Soos Bezuidenhout was hy vuurwarm in die eerste drie rondes van die Amerikaanse PGA-kampioenskap. Daardie peil het hom ook nog nie verlaat nie, soos ’n vierde plek twee weke terug in die Memorial-toernooi wys.

Die 33-jarige Suid-Kapenaar het egter ’n veel skraler kans om Higgo te vang as wat Bezuidenhout het. Hy is 71ste op die wêreldranglys en sal waarskynlik net by die jongeling verbyskuif as hy die Amerikaanse Ope wen en die 100 ranglyspunte wat ’n eerste plek bied, wen. Maar daartoe is hy natuurlik heeltemal in staat.

’n Tweede plek (en 60 punte) kan Grace ook oor die lyn kry – maar net as Higgo die afsnypunt mis en Bezuidenhout buite die toptien eindig.

Wat Higgo betref, sal hy Donderdag in net sy tweede major-toernooi (en derde in die Amerikaanse PGA-reeks) afslaan. Dis dus in teorie nie wys om te veel van hom te verwag nie.

As Branden Grace sy major-droom hierdie naweek verwesenlik, kan hy ook sy tasse begin pak om ’n Olimpiër te word. Foto: Getty Images

Maar daar is ’n paar redes waarom die jongeling nie aan dieselfde standaarde as die meeste ander spelers onderwerp moet word nie: die feit dat albei die laagste tellings tot dusver in die Europese reeks agter sy naam pronk ná sy twee 2021-seges in die Kanariese Eilande, die skitterende Sondag-68 waarmee hy die PGA-kampioenskap ’n paar weke gelede afgesluit het (op ’n baan wat die meeste ander spelers se ego daardie dag lelik gekrenk het) en die volwassenheid waarmee hy die afgelope Sondag gespeel het, terwyl al sy naaste teenstanders inmekaargestort het.

Dit sal nie meer ’n verrassing wees as hy ’n goeie week by Torrey Pines het nie.

Suid-Afrika het in 2016 vir Jaco van Zyl en Brandon Stone na die Olimpiese kompetisie in Rio de Janeiro gestuur nadat die land se destydse voorste trio – Oosthuizen, Grace en Charl Schwartzel – almal besluit het om nie te gaan nie.

Daardie jaar het vrees vir die Zika-virus in Brasilië talle atlete vooraf katvoet gemaak.

Waar Oosthuizen nou ’n tweede hap aan die appel kry en Grace vir homself een kan losspeel, is Schwartzel (nr. 110 in die wêreld, agter tien van sy landgenote) vanjaar te ver terug.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Gholf  |  Tokio-Spele  |  Garrick Higgo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.