Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Onthutsende toekoms ná Tiger-ongeluk

Die laaste hoofstuk van Tiger Woods se ongelooflike loopbaan het dalk ’n nare einde bereik toe die wenner van 15 major-titels Dinsdagoggend (plaaslike tyd) in ’n motorongeluk in Los Angeles was.

Die wrak van die motor waarin Tiger Woods die ongeluk gehad het. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse gholfster het aansienlike ortopediese beserings aan sy regterbeen opgedoen wat in ’n noodoperasie deur ortopediese traumaspesialiste behandel is. Daar was volgens sy dokters oop splinterbreuke aan sy kuitbeen (fibula) en skeenbeen (tibia) wat met ’n pen herstel is. Skroewe en penne is ook in Woods se voet en enkel gesit om dit te stabiliseer.

Die Tier word reeds vir jare deur rug- en knieprobleme geteister en het die afgelope tyd net soveel tyd aan sy herstelproses deurgebring as wat hy op die baan meegeding het. Dit het gholf ’n blik gegee op hoe die toekoms mag lyk sonder die sport se grootste trekpleister.

“Ek dink gholf het plek gemaak vir die feit dat Tiger nie meer toernooie op ’n gereelde basis sal speel nie,” sê Neal Pilson, hoof van Pilson Communications en voormalige president van CBS Sports.

“Ek dink hy sal lewenslank by elke groot toernooi welkom wees, maar ek dink nie ons gaan weer vir Tiger in ’n mededingende toernooi sien speel nie. Op sy kruin is daar vasgestel dat wanneer Tiger op ’n Sondag speel, die kykertalle vir die Sondag se dekking met 25% tot 30% gestyg het. As hy nie weer speel nie, sal hy beslis gemis word.”

Woods se gewildheid sedert sy beroepsbuiging in 1996 het van hom een van die sport se bes betaalde deelnemers gemaak. Forbes het hom in 2009 as die eerste sportlui bevestig om die $1 miljard-kerf in verdienste te behaal (prysgeld en borgskappe).

Benewens sy beserings het die 45-jarige Woods ook verskeie skandale in sy loopbaan trotseer, insluitende sy inhegtenisname in 2017 toe hy onder die invloed van alkohol of dwelms bestuur het.

Het ons die laaste van Tiger Woods in ’n mededingende gholftoernooi gesien? Foto: Getty Images

Alex Villanueva, polisiehoof van die Los Angeles-distrik, het op ’n nuuskonferensie ná die ongeluk gesê Woods het “teen ’n hoër as normale spoed” by ’n afdraand in die Rolling Hills-omgewing afgery, maar daar was geen aanduiding dat hy onder die invloed van enige middels ten tyde van die voorval was nie.

Indien Dinsdag se botsing eenvoudig ’n ongeluk was – en al beïnvloed dit Woods se vermoë om in die toekoms gholf te speel – is die kans daar dat sy borge by hom sal staan, sê Patrick Rishe, direkteur van die sportsakefakulteit by die Washington Universiteit in St. Louis, Missouri.

“Daar is weens sy geskiedkundige sukses steeds waarde daarin om hom as ’n vennoot te behou,” sê Rishe.

“Daar is talle sportlui wat steeds deur handelsmerke ingespan word al het hulle lank terug reeds uitgetree.”

Daar het nog niemand daadwerklik gewys dat hulle as Woods se opvolger gekroon kan word nie, niemand wat die gholfwêreld se verbeelding soos dié Amerikaner kon aangryp nie.

Woods se seun Charlie (11) het in November by die PNC-kampioenskap, ’n gesamentlike PGA/LPGA-gesinstoernooi, egter gewys hy beskik oor ’n paar van sy pa se gholfgene.

Woods, die sport se eerste Afro-Amerikaanse superster, het meer as net die rekordboeke herskryf. Hy het gholf se voorkoms en die wyse waarop die spel gespeel word, verander en diversiteit gebring aan ’n sport wat tradisioneel die domein van die wit middelklas was.

Woods het met sy krag die spel gerevolusioneer en roemryke bane, selfs die ikoniese Augusta National, genoop om hul uitleg te “Tiger-proof”.

Hoewel dit voorkom asof daar weer ’n lang, uitdagende herstelproses vir Woods wink, is een van die kenmerke van sy loopbaan sy vermoë om die onmoontlike te kan vermag.

Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het Woods ’n spoedige herstel op Twitter toegewens en gesê: “As ons deur die jare een ding geleer het, is dit om Tiger nooit af te skryf nie.”

– Reuters

Meer oor:  Tiger Woods  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.