Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Ontmoet gholf se nuwe nr. 1-‘WAG’
Brooks Koepka en sy meisie, Jena Sims, met die Wanamaker-trofee by die Bethpage Black-baan in New York. Foto: Getty Images

Brooks Koepka se buitengewone vermoë om major-titels te beklink het gholfkenners aan die raai, maar miskien het sy meisie, Jena Sims, iets daarmee te doen.

Die 29-jarige Amerikaner het Sondag op die Bethpage Black-baan in New York sy vierde grote in 23 maande gewen toe hy by die PGA-kampioenskap geseëvier het.

Hy het dié mylpaal boonop vinniger as enigiemand voor hom bereik, insluitend groot name soos Ernie Els, Seve Ballesteros, Tiger Woods en Jack Nicklaus.

Sy ongelooflike treftempo by major-toernooie stem toevallig ooreen met die begin van sy verhouding met Sims, ’n model en aktrise, in 2017.

Jena Sims en haar vriendin Paulina Gretzky, die gholfspeler Dustin Johnson se meisie. Foto: Getty Images

Sims (30) lag oor die toeval maar skryf dit nie eenvoudig af nie.

“Hy is báie bewus van sy sukses en die tydsberekening van ons verhouding,” sê sy aan golf.com.

“Ek kan nie die krediet daarvoor vat nie, al wat ek kan doen is om hom gelukkig te maak. Ek is eksentries en sonderling, ek hou daarvan om hom te laat lag. Ek moedig hom aan om homself te wees.”

As Koepka tans die warmste speler in gholf is, dan het Sims net so vinnig aanspraak gemaak op die titel as dié ryk sport se nr. 1-WAG (’n akroniem vir wifes and girlfriends).

Sy het aandag getrek in die laaste ronde in New York toe sy twee keer sonder sukses soentjies aan Koepka probeer blaas het voor sy afslaan.

Sims erken sy poog gereeld om Koepka se oog te vang terwyl hy speel, maar dit is nie altyd so maklik met die groot getalle toeskouers by major-toernooie nie.

Jena Sims erken sy probeer gereeld Brooks Koepka se aandag op die baan trek. Foto: Getty Images

“Ek is nie juis baie diskreet nie,” sê sy. “Ek sal vir hom waai en hy sal sy hoed lig. Ek sal vir hom ’n soentjie blaas. Ek probeer nie eintlik om onder die radar te wees nie. As ek hom sien en hy kyk vir my sal ek sê, ‘haai!’.

“Ek stres nie te veel nie, want ek is nie die een op die baan wat die gholfstok moet swaai nie. Ek geniet net myself, ek is daar vir hom.”

Sims, wat spog met ’n reusegevolg op Instagram, is in Georgia gebore en het verskeie skoonheidskompetisies in dié deelstaat gewen. Sy het in 2007 ook Georgia by die Miss Teen USA-skoonheidswedstryd verteenwoordig.

Sims is hoof van ’n niewinsgewende organisasie, Pageant of Hope, wat skoonheidskompetisies vir kinders met kanker en ander nadele aanbied.

Sy het in verskeie “B-rolprente” verskyn en haar eerste hoofrol in Attack of the 50 Foot Cheerleader in 2012 vertolk.

Sims kan onder meer ook in Last Vegas, Kill The Messenger, 3-Headed Shark Attack en American Beach House gesien word. Sy het selfs ’n rol in ’n episode van die televisiereeks Entourage vertolk.

Koepka se reis na die kruin is noemenswaardig. Hy het vier van die laaste agt Grand Slam-toernooie gewen en onder die voorste 25 geëindig in 12 van die laaste 13 toernooie. Hy het die eerste speler in amper 30 jaar geword om die Amerikaanse Ope-titel suksesvol te verdedig (2017 en 2018) en was ook verlede jaar by die PGA-kampioenskap baas.

Koepka, terug boaan gholf se wêreldranglys danksy Sondag se sege, vertoon nie juis goed in normale PGA-toernooie nie, waar hy slegs twee keer aan die wenkant was. Hy verkies om sy beste vir die majors te hou.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.