Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Oos wes, tuis bes vir Ockie Strydom

Daar is steeds ’n Strydom boaan die voorlopersbord van die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap – maar dis nie dieselfde een as aan die einde van Donderdag se tweede ronde nie.

Ockie Strydom, wat ’n jaar gelede na die Serengeti-gholflandgoed getrek het en dus vandeesweek tuisvoordeel in die jaareindtoernooi geniet, het Vrydagmiddag by sy huis ingestap met ’n voorsprong van twee houe, danksy ’n foutlose ronde van 63 (nege houe minder as baansyfer) wat sewe voëltjies en ’n arend ingesluit het.

Ockie Strydom het ’n tweehou-voorsprong ná twee dae van die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap.Foto: Gallo Images

Hy is op 12-onder twee houe voor die driemalige Europese wenner Brandon Stone, wat self vuurwarm was op pad na ’n 65.

Jean-Paul Strydom, wat Donderdag as die voorloper gaan slaap het, is nou drie houe terug ná ’n 69. Hy deel die derde plek met die Nelspruiter Thriston Lawrence (68).

Ockie Strydom, ’n 35-jarige Kemptonparker, het vir jare gebuk geloop onder die mantel van Sonskynreeks-strooijonker, maar verlede Augustus uiteindelik ná elf tweede plekke vir die eerste keer die wenkampie betree.

Sedertdien het hy net een top20-uitslag behaal – ironies genoeg ’n twaalfde tweede plek, by die Vodacom-toernooi by Selborne.

’n Terugkeer na die huis – vir ’n week waarin hy in sy eie bed slaap, klere uit sy eie kas haal en kos uit sy eie yskas eet – was egter net wat hy nodig gehad het vir ’n groot ommekeer.

“Dis altyd lekker om by die huis te speel,” het Strydom gesê. “As ek al my sethoue oor die eerste nege van die baan gesink het, sou ek waarskynlik ’n 28 (eerder as die 33 wat hy aangeteken het) op my telkaart ingevul het.

“Ek ken die baan en ek ken die setperke, so as ek die bal na die regte plekke slaan, kry ek dit gewoonlik in die blikkie.”

Ook Stone, wat die afsnypunt in vier van sy laaste ses toernooie gemis het, was hoogs ingenome met sy setwerk by Serengeti. Sy dag het vyf voëltjies oor sy eerste nege putjies en ’n arend by die agtste (sy voorlaaste putjie van die dag) opgelewer.

“Ek dink ek het (Vrydag) by meer geleenthede net een keer geset as die hele seisoen voor dit,” het hy gesê. “Enige tyd wat jy 65 slaan het jy niks om oor te kla nie. Ek het die lyne (op die setperke) goed gelees en die bal ’n bietjie beter gerol. Ek het die laaste paar maande die idee gekry my bal is bang vir die donker, hulle wou net nie in die blikkie nie, so dit was lekker om die sethoue die keer te sien verdwyn.”

* Die stryd om Sondag as die Sonskynreeks se geldwenner gekroon te word, het Vrydag ’n interessante wending geneem.

Net twee mans, die Standerton-boorling J.C. Ritchie en Oos-Rander Danie van Tonder, kan met die geldtitel wegstap – en Van Tonder kan net so maak as hy in die top-2 eindig en Ritchie buite die top-10.

Wel, ná 36 putjies bevind Ritchie hom in die gesamentlike 29ste plek (uit 41 spelers) ná ’n foutbesaaide 74 in die tweede ronde. Hy het vier brouhoue en ’n dubbele brouhou aangeteken, asook vier voëltjies.

Van Tonder is in die sewende plek ná ’n 67. Hy is vyf houe agter Strydom.

Meer oor:  Sonskynreeks  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.