Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Oosthuizen spring goed weg in SA Ope

Die Suid-Afrikaanse Ope het Louis Oosthuizen agt jaar laas gesien – en selfs langer terug in die verwoestende bui waarin hy Donderdag was.

Jy kan jou dus net indink watter huppel in die stap die toernooi se organiseerders het nadat een van die grootste sterre by die Randpark-gholfklub sy nasionale Ope afgeskop het met ’n foutlose rondte van 62 (nege houe minder as baansyfer).

Louis Oosthuizen het Donderdag by die Randpark-gholfklub die Suid-Afrikaanse Ope afgeskop met ’n foutlose rondte van 62.Foto: Getty Images

Oosthuizen het die oggendsessie van die SA Ope se eerste dag afgesluit met ’n voorsprong van drie houe oor die Engelsman Matt Wallace (65). Die Suid-Afrikaner het nege voëltjies by die Bushwillow-baan afgeblits met ’n ietsie van alles. As hy nie beloon is vir ’n perfek geleeste lang sethou nie, was dit ’n ysterhou van langs die setperk wat applous by die skare ontlok het, of ’n uitstekende bofhou.

“Ja, dis ’n lekker telling om mee terug te keer na die SA Ope,” het ’n glimlaggende Oosthuizen (wat in 2010 laas in die toernooi gespeel het) gesê. “Ek het heeltyd goed gespeel, hier en daar ’n sethou gemaak en die bal goed gedryf. Dit maak die baan korter, jy kan dan die kort ysters uithaal.”

Die SA Ope vind vanjaar vir die eerste keer plaas op twee bane en met ’n tamaai veld van 240 spelers. Oosthuizen was in aksie by die nuwer Bushwillow, waar hy nog nooit voorheen gespeel het nie, maar sal vir die volgende drie dae speel by Firethorn, die ouer baan waar hy en Charl Schwartzel mekaar 22 jaar gelede as juniors vir die eerste keer ontmoet het. Al die spelers wat Vrydag se afsnypunt oorleef, sal Saterdag en Sondag op Firethorn speel.

“Ek is bly Bushwillow is nou agter my, ek kan daardie meterboek uit die venster gooi,” het hy gesê. “As jy dit andersom doen kan dit dalk jou momentum breek.”

Dis nou reeds byna drie jaar sedert Oosthuizen se laaste sege, vroeg in 2016 in Perth, maar hy sê hy voel positief dat die wendroogte gou sal eindig.

“My gholf beweeg in die regte rigting en ek hou van waar dit nou is,” het hy gesê.

* Asof dit nie opwindend genoeg is om Oosthuizen se naam heel bo aan die voorlopersbord te sien nie, is daar ’n hele paar ander groot kanonne wat hul telkaarte met ’n glimlag ingegee het.

Ernie Els, die toernooi-gasheer, en Branden Grace tel onder die spelers wat die oggendsessie net ’n paar kerwe onder Oosthuizen afgesluit het, op 5-onder (66).

Els se susterskind, Jovan Rebula, die heersende Britse Amateurkampioen, het Bushwillow ook met minagting behandel vir ’n rondte van 67, dieselfde telling wat Thomas Aiken, Dean Burmester en Shaun Norris (onder andere) aangeteken het.

Die beste telling van die eerste oggend by Firethorn was die Duitser Max Schmitt se 66 (-5).

Meer oor:  Sa Ope  |  Louis Oosthuizen  |  Randpark-Gholfklub
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.