Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
‘Pasop vir Rory’ in PGA-kampioenskap

Die blink vertonings van verskeie van sy gholfspelers die afgelope ruk laat die hoop opvlam dat Suid-Afrika gouer as later weer ’n major-wenner sal hê.

Die Noord-Ier Rory McIlroy sal Donderdag as een van die gunstelinge in die PGA-kampioenskap afslaan. Foto: Getty Images

Daar is immers 33 majors beslis sedert Ernie Els in 2012 in die Britse Ope by Royal Lytham & St. Annes plaaslike ondersteuners laas ’n rede gegee het om die vreugdevure aan te steek.

Kyk jy na dít wat beroepswedders in die opbou tot die week se 103de PGA-kampioenskap op Kiawah Island se Ocean Course bied, is Louis Oosthuizen teen 60-1 oënskynlik Suid-Afrika se groot hoop.

Buiten Oosthuizen, is daar tien ander landgenote wat Donderdag vir die tweede grote op die 2021-gholfkalender nader staan – Christiaan Bezuidenhout, Dean Burmester, George Coetzee, Dylan Frittelli, Branden Grace, Garrick Higgo, Charl Schwartzel, Brandon Stone, Erik van Rooyen en Daniel van Tonder.

Burmester en Van Tonder het die afgelope tyd in onderskeidelik Spanje en in Kenia wentjeks ontvang, terwyl die 22-jarige Higgo vroeër die maand twee titels in drie weke in die Europese reeks gewen het.

Stone het verlede maand in die Limpopo-kampioenskap geseëvier en Schwartzel het Sondag gesamentlik derde geëindig in die Byron Nelson-toernooi in Texas.

Tog is Rory McIlroy, Dustin Johnson, Patrick Reed, Justin Thomas en Jon Rahm die Suid-Afrikaanse gholflegende Dale Hayes se topvyf-gunstelinge om Sondag as die wenner gekroon te word in Suid-Carolina.

“Vanselfsprekend hoop ek een van ons manne kan wen.

“Louis is meer bestendig die afgelope tyd en hy set ook goed. Jy kan hom nooit afskryf nie.

“Ek het met Charl se pa (George) gesels en hy sê Charl se bofhoue is die beste in ’n lang ruk.

“Garrick Higgo speel tans uitstekend, maar dit is baie gevra van iemand om in sy major-debuut te wen. “Dit gebeur nie sommer nie.”

Die jong Garrick Higgo van Suid-Afrika maak sy major-debuut op Kiawah Island se Ocean Course. Foto: Getty Images

McIlroy het in 2012 – by die einste Kiawah Island – op 23-jarige ouderdom sy tweede major-oorwinning gevier toe hy met agt houe gewen het.

“Dit lyk of hy sy mojo terug het nadat hy onlangs by Quail Hollow gewen het (in die Wells Fargo-toernooi).

“Sy setwerk was ongelooflik en as sy dryfhoue ook akkuraat is, kan hy onstuitbaar wees.”

Hayes voorspel Rahm is bestem vir ’n major in die afsienbare toekoms.

“Hy het al naby daaraan gekom en sy begeerte om by die ander grotes in Spaanse gholf aan te sluit, raak al hoe groter.

“Met Dustin Johnson weet jy nooit nie. Wanneer alles vir hom werk, is dit moeilik om hom te klop.

“Hoewel Patrick Reed nie een van my gunstelinge is nie, kán hy gholf speel.

“Hy het die vermoë om hom week ná week onder die voorlopers te vestig en die uitleg van die Ocean Course sal hom pas.

“Reed weet ook hoe om op sulke uitdagende bane uit die moeilikheid te bly.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.