Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Player ‘in trane’ ná Higgo se sege in VSA

Vir ’n hele paar jaar is Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel as Ernie Els en Retief Goosen se troonopvolgers in Suid-Afrikaanse gholf beskou.

Oosthuizen, die Britse Ope-kampioen in 2010, het verlede maand in die PGA-kampioenskap by Kiawah Island met ’n tweede plek weer gewys ’n volgende grote moet sekerlik iewers vir hom bestem wees.

Garrick Higgo, Suid-Afrika se nuwe gholfsensasie, glimlag breed nadat hy Sondag sy eerste Amerikaanse PGA-titel gewen het. Foto: Getty Images

Ook Branden Grace het, hoewel hy nog nie soos Oosthuizen en Schwartzel major-titels gewen het nie, al sterk op die voorgrond getree toe hy onder meer in 2017 se Britse Ope by Royal Birkdale met ’n 62 – die laagste rondte tot nog toe in ’n major-toernooi – losgetrek het.

Staan opsy, kêrels, want dit is Garrick Higgo en Wilco Nienaber wat wêreldgholf nou aan die gons het.

Die 22-jarige Higgo het Sondag die Palmetto-kampioenskap met ’n hou gewen en sodoende sy eerste Amerikaanse PGA-titel gevier.

Ek dink nie ek was al ooit in my lewe meer opgewonde om te sien hoe iemand ’n gholftoernooi wen nie. Ek het trane in my oë gehad.

Hy het, volgens sunshinetour.com, kort ná sy oorwinning ’n oproep van die legendariese Gary Player ontvang.

Player, wat in sy loopbaan nege majors gewen het, sê sy jong landgenoot is “bestem vir grootsheid”.

“Ek dink nie ek was al ooit in my lewe meer opgewonde om te sien hoe iemand ’n gholftoernooi wen nie. Ek het trane in my oë gehad,” het Player aan Higgo gesê.

Dit was Higgo se eerste sege in net sy tweede toernooi in die PGA-reeks – iets wat laas in 1988 vermag is.

“Jy begin dit nou glo. Ek dink jy besef nou jy het die selfgeloof om ’n grote te word. Jy is bestem vir grootsheid,” het Player aan die jong protégé gesê.

Higgo het met die vertoning sy derde titel in die bestek van drie maande vanjaar gewen nadat hy sy bankbalans onlangs ook met twee wentjeks in die Europese reeks aangevul het.

Hy is nou 39ste op die wêreldranglys, die voorste Suid-Afrikaner naas Oosthuizen (18de).

Higgo het in die Palmetto-kampioenskap afgeslaan danksy ’n borg se uitnodiging in die aanloop tot die week se Amerikaanse Ope by Torrey Pines in San Diego.

Hy is ná die triomf vir die volgende twee jaar seker van sy deelname aan die PGA-reeks en sal ook volgende jaar by Augusta in die Amerikaanse Meesterstoernooi meeding.

Nóg ’n grote! Die jong Suid-Afrikaner Wilco Nienaber kyk ’n bofhou agterna die afgelope naweek in die Palmetto-kampioenskap. Foto: Getty Images

Wilco Nienaber, die 21-jarige Bloemfonteiner, het die toernooi met ’n laaste ronde van 67 afgesluit om op 277 houe – sewe beter as baansyfer – gesamentlik 14de te eindig.

Dit is nietemin sy monsterbofhoue wat opslae gemaak het.

Nienaber het die bal in die eerste twee rondes 25 keer 275 m of verder van die bof af gedryf.

Veral sy bofhou van 343 m Vrydag op die 18de putjie van die Congaree-baan in Suid-Carolina het die oë laat rek.

Higgo en Nienaber het saam met Oosthuizen, Grace, Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout, Thomas Aiken, Erik van Rooyen en Dylan Frittelli vir die 121ste Amerikaanse Ope gekwalifiseer.

Meer oor:  Gholf  |  Wilco Nienaber  |  Garrick Higgo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.