Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gary Player se seun maak skande

Wayne Player, seun van die gholflegende Gary, het skande gemaak tydens vanjaar se Meesters op Augusta deur slinks sy maatskappy se gholfballe voor die TV-kameras te adverteer.

Wayne Player, met die pakkie gholfballe, agter die gholflegende Lee Elder. Foto: Reuters

Wayne (59) het vir sy beroemde pa met die openingseremonie as “baljoggie” opgetree.

Volgens Marc, Gary se oudste seun, is sy broer nou verbied om sy voete weer op Augusta te sit.

Wayne is daarvan beskuldig dat hy “guerrilla-bemarkingstaktiek” gebruik het om die maatskappy waarvoor hy werk se gholfballe op televisie te adverteer.

Wayne was aan Player se sy met sy sak as Gary se “joggie” tydens die openingseremonie toe Gary en Jack Nicklaus die eerste seremoniële houe geslaan het. Wayne het, sonder om te blik of te bloos, langs die derde eregas, Lee Elder, ingeskuif en ’n pakkie gholfballe van die maatskappy waarby hy sedert 2019 betrokke is, opsigtelik vertoon.

Elder (86) is die eerste swart speler wat in die Meesters gespeel het, maar hy kon weens sy gesondheid nie afslaan nie.

Marc het nie op hom laat wag nie en het op sosiale media om verskoning gevra vir Wayne se gedrag.

“Wayne is heeltemal tereg deur Augusta National en die Mees­terstoernooi verban,” het Marc getwiet.

“Wat ’n skande, wat ’n verleentheid. Watter groot fout is nie begaan nie om hom op die eerste putjie toe te laat ná soortgelyke omstredenheid. My verskoning aan almal,” het Marc getwiet.

Daar kon nog nie amptelik bevestig word of Wayne wel op Augusta verbied is nie.

Wayne het aan Golf Digest gesê dat hy die bal waarmee Gary sou speel, aan die toeskouers wou wys.

“In daardie stadium het ek net gedink dit sou koel wees om die bal waarmee Gary sou afslaan, aan toeskouers te wys.

“Dis waar dit geëindig het. Ek het mense se gevoelens seergemaak. Ek is regtig jammer en ek hoop dat hulle my sal vergewe,” het Wayne gesê.

Elder by die 1975-Meesters.

Keith Blakely, uitvoerende hoof van OnCore Golf Technology, wat die balle vervaardig, het in ’n verklaring gesê hulle het nie vir Wayne opdrag gegee om die pakkie balle te vertoon nie.

“Ons is jammer as sy optrede die aandag afgelei het van die wonderlike verering van mnr. Elder,” het Blakely gesê.

Marc en Gary was ’n paar jaar gelede in ’n regsgeding betrokke nadat die 61-jarige Marc ’n skadevergoedingseis van sowat R71 miljoen aan Gary moes betaal het oor dié se naamregte.

In 2019 het Wayne vyf nagte in ’n tronk in Georgia deurgebring ná ’n voorval tydens 2018 se Meesterstoernooi.

Wayne het ’n huis vir twee dae vir $2 000 gehuur en die rekening betaal met ’n tjek wat later deur die bank geweier is.

Die eienaar het onsuksesvol probeer om die geld terug te kry en het in Julie 2018 ’n regsgeding begin om sy geld te verhaal.

’n Lasbrief is uitgereik en Wayne is in Januarie 2019, toe hy op pad na Suid-Afrika was, op die lughawe aangekeer.

Hy is in hegtenis geneem en het vyf dae in ’n tronk deurgebring voordat die klag laat vaar is.

Wayne het later aan die Golf Channel gesê dat hy die geld terugbetaal het.

Volgens Golficity was dit nie al voorval waarby Wayne op Augusta betrokke was nie.

Wayne en sy Wayne Player Enterprises LLC-maatskappy is ook daarvan aangekla dat hy in 2018 bedrog gepleeg het.

Wayne het glo aan Todd Feltz ’n “Green Jacket Masters Expe­rience”-pakket aangebied wat onder meer kaartjies vir die driesyfer-toernooi vooraf en een kaartjie vir die openingsronde sou ingesluit het. Feltz sou boonop vir Gary ontmoet.

Dit het nie plaasgevind nie en Feltz het Wayne gekonfronteer. Maar pleks daarvan dat hy sy geld teruggekry het, het Wayne hom glo met die kop gestamp.

Wayne het later gesê dit was nie ’n “kopstamp” nie, net ’n ligte stampie.

Hy is van wanordelike gedrag aangekla en het ’n boete van $300 dollar betaal. – Sportredaksie, Golf Digest

Meer oor:  Wayne Player  |  Lee Elder  |  Augusta  |  Gholfballe  |  Meesters  |  Bemarkingstaktiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.