Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Queenswood-gholfspeler wen

Paul Boshoff van Queenswood het verlede week sy eerste professionele gholftoernooi gewen toe hy met twee houe by die Big Easy IGT-uitdaagtoernooi by die Randpark-gholfklub geseëvier het.

Boshoff was nog aan die begin van die laaste ronde twee houe agter, maar met drie voëltjies en ’n arend oor die eerste vyf putjies het hy gou sy stem dik gemaak.

Teen die tyd dat Boshoff op die 16de afgeslaan het, was hy met drie houe voor, maar hy het op die putjie en die 17de houe aan syfer afgestaan, wat Hendrikus Stoop ’n kans gegee het om in te haal.

Paul Boshoff van Queenswood het verlede week sy eerste oorwinning op die Big Easy IGT-uitdaagreeks by die Randpark-gholfbaan behaal.Foto: CJ du Plooy

“Die 18de was senutergend,” sê Boshoff. “Ek het my bofhou links van die skoonveld onder die bome geslaan terwyl Stoop regs gehou het en die setperk met sy tweede hou kon aanval. Ek het reeds gereed gemaak vir ’n uitspeelstryd, maar hy het sy tweede hou kort van die setperk gelos, wat my meer opsies gegee het.”

Boshoff moes op die einde ’n kort sethou vir sy syfer sink en het daarmee die oorwinning beklink. Stoop het ’n hou aan syfer afgestaan, maar was steeds tweede, met Juran Dreyer derde, ’n hou agter Stoop.

“Ek is bly dat ek ná twee jaar uiteindelik een van hierdie toernooie kon wen,” sê Boshoff.

“Ek speel al geruime tyd goeie gholf en ek het baie van myself vir hierdie toernooi verwag.

“My gholf verbeter steeds met elke ronde wat ek speel.”

Boshoff het in Maart vanjaar vir die Sonskynreeks probeer kwalifiseer, maar het dit met een hou nie gemaak nie.

Sy oorwinning het hom tot sesde plek op die IGT-reeks-ranglys laat opskuif en dit maak hom ’n sterk aanspraakmaker om onder die eerste tien te eindig. As hy wel onder die eerste tien sou klaarmaak, sal hy volgende seisoen op die Sonskynreeks kan speel.

“Die geleentheid om op die Sonskynreeks te kan speel gee my baie aanmoediging,” sê Boshoff. “Nou is die uitdaging om tot in Desember aan te hou goeie gholf speel en my plek onder die eerste tien te behou. Ek was nog nooit meer gemotiveerd as nou nie.”

Caylum Boon, Dwayne Basson en Tokkie van den Berg het gesamentlik vyfde by Randpark geëindig. Eersgenoemde het op die laaste dag sy ronde in 66 houe voltooi en sodoende die beste ronde van die laaste dag gespeel.

Meer oor:  Gholf  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.