Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Rahm droom groot ná Covid-19-treurmare

Die koronavirus het Jon Rahm die laaste paar weke ’n lelike streep getrek.

Eers is hy aan die begin van die maand deur ’n positiewe Covid-19-uitslag gedwing om hom te onttrek aan die Memorial-toernooi toe hy met ses houe voor was! Toe word hy in kwarantyn gedwing op net mooi die tyd wat sy ouers hul twee maande oue kleinseun, Kepa, kom ontmoet. En die Spanjaard kon nie by wees om die uitdrukkings op hul gesigte te sien nie.

Nadat Covid-19 hom die laaste paar weke ’n lelike streep getrek het, het Jon Rahm Dinsdag glimlaggend by Torrey Pines voorberei vir vandeesweek se Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images

“Ek was maar bangerig, want al het ek heeltemal oukei gevoel, wou ek nie die virus vir enigiemand in die huis gee nie – veral nie vir my seuntjie nie,” het Rahm Dinsdag op ’n nuuskonferensie voor vandeesweek se Amerikaanse Ope volgens Golf Digest gesê.

“Ek dink die moeilikste deel was dat ek vir meer as tien dae geen tyd saam met my kleinding kon deurbring nie. Boonop was my ouers in die dorp, maar ek kon nie juis rondom hulle wees nie. My ma is ten volle ingeënt, so ek en sy kon ’n bietjie tyd saam deurbring, maar ek was nie daar toe hulle my seun ontmoet het nie. En ek het hulle in meer as ’n jaar, amper ’n jaar en ’n half, nie gesien nie. Dis die moeilike ding van hierdie virus.”

Ná dit alles kan jy jou goed indink dat Rahm geen aanmoediging nodig het nie om die Amerikaanse Ope-trofee hierdie week hard te jaag. Dink jou in hoe sy kleinkinders eendag aan sy lippe sal hang as die storie oor sy eerste major-sukses begin met drie weke van treurmare.

As jy vir omtrent ’n week nie ’n gholfbal slaan nie en dan in ’n major ingaan, is jy in ’n moeilike posisie – veral as dit die Amerikaanse Ope is.

Rahm, die wêreld se nr. 3-speler, gaan die jaar se derde major binne as een van die gunstelinge, ná ’n paar maande van fantastiese peil.

Voor die Memorial-drama het hy agtste in die Amerikaanse PGA-kampioenskap en vyfde in die Amerikaanse Meesterstoernooi geëindig. In 12 toernooie vanjaar het hy sewe toptien-uitslae behaal.

Hopelik, sê die 26-jarige Spanjaard, kan hy voortgaan waar hy twee weke gelede gedwing is om op te hou.

“As jy vir omtrent ’n week nie ’n gholfbal slaan nie en dan in ’n major ingaan, is jy in ’n moeilike posisie – veral as dit die Amerikaanse Ope is,” het Rahm volgens Reuters gesê.

“Ek het vertroue dat ek vinnig weer op dreef kan kom. Ek het darem nog twee dae oor en ek speel die hele jaar al goeie gholf. Twee weke gelede was ek op alle krag. Ek verwag nie om weer so perfek te speel nie, maar ek weet ek kan ’n hoë vlak bereik,” het hy Dinsdag gesê.

• Die grootste gesprekspunt voor die toernooi is die knaende vyandigheid tussen die laaste twee Amerikaanse Ope-kampioene, Brooks Koepka en Bryson DeChambeau.

Die paar se yskoue verhouding is by verlede maand se PGA-kampioenskap fel in die kollig gewerp toe DeChambeau by Koepka verbygestap het terwyl hy met die media praat en ’n snedige aanmerking oor sy setwerk gemaak het.

By die Memorial-toernooi het Koepka se aanhangers by die partytjie aangesluit deur DeChambeau ‘Brooksy’ te noem. Koepka het petrol op die vuur gegooi deur op sosiale media gratis bier aan die uitjouers te belowe.

In die Amerikaanse media is groot gewag gemaak van die moontlikheid dat die USGA die duo sou laat saamspeel in die eerste twee rondes van die Amerikaanse Ope, maar hulle is teleurgestel. Koepka is eerder geloot saam met Colin Morikawa en Justin Thomas. DeChambeau sal saam met die Meesterskampioen, Hideki Matsuyama en Tyler Strafaci speel.

Nietemin hoop DeChambeau om oor die naweek saam met Koepka te kan speel.

“Om eerlik te wees, was ek mal daaroor dat mense Brooksy se naam gesê het,” het die heersende Ope-kampioen van die Memorial-voorval gesê. “Ek dink dis skreeusnaaks.

“Hopelik kan ons die naweek saam en teen mekaar speel,” het hy bygevoeg. “Ek dink dit sal groot pret en goed vir gholf wees.”

Koepka, daarenteen, het gesê hy voel vere vir wie sy speelmaat is.

“Dit maak nie vir my saak nie. Ek is daar om my eie spel te speel. Wat binne die toue gebeur pla my nie,” het hy gesê.

Wilco Nienaber, wat vandeesweek sy major-debuut maak, het die Amerikaanse media verlede week in vervoering gehad met die afstand wat hy die bal slaan. Hy is een van nege Suid-Afrikaners by Torrey Pines. Foto: Getty Images

• Terwyl alle oë, minstens aanvanklik, op spelers soos DeChambeau, Koepka en Rahm sal wees, is daar nege Suid-Afrikaners by Torrey Pines wat sal hoop om hul kollig te steel.

Louis Oosthuizen hoop om ’n trappie hoër te klim nadat hy verlede maand tweede in die PGA-kampioenskap was, terwyl Christiaan Bezuidenhout en Branden Grace stert in die lug behoort te wees nadat albei tot vroeg in hul Sondag-rondtes ook in die wedloop om die titel was.

Die jongelinge Garrick Higgo en Wilco Nienaber tree aan vir hul eerste Amerikaanse Ope ná wonderlike spel verlede naweek by die Palmetto-kampioenskap. Higgo het sy eerste PGA-sege behaal nadat hy ’n agterstand van ses houe Sondag uitgewis het, terwyl Nienaber onderweg na ’n 14de plek die oë laat rek het met sy monsterhoue. Geen ander speler het die bal verder as hy geslaan in Suid-Carolina nie.

Thomas Aiken, Dylan Frittelli, Charl Schwartzel en Erik van Rooyen is die ander Suid-Afrikaners wat by Torrey Pines in aksie sal wees.

Afslaantye

SA spelers se afslaantye (SA tyd):

15:45: Thomas Aiken, Andy Pope (VSA), Brad Kennedy (Aus).

16:07: Wilco Nienaber, Cameron Young (VSA), Guido Migliozzi (It).

17:24: Dylan Frittelli, Martin Laird (Skot) K.H. Lee (Kor).

21:52: Erik van Rooyen, Christiaan Bezuidenhout, Charl Schwartzel.

22:03: Garrick Higgo, Cole Hammer (VSA), Joaquin Niemann (Chili).

22:47: Louis Oosthuizen, Patrick Cantlay (VSA), Sungjae Im (Kor).

22:58: Branden Grace, Kevin Streelman (VSA), Charley Hoffman (VSA).

TV: Donderdag vanaf 15:45 op SuperSport Gholf (kanaal 213); 20:00 op SS Grandstand (201).


Meer oor:  Gholf  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.